|

Afrikaners nodig om welvaart in Afrika te help ontgin

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

“Daar is ’n rede waarom Afrikaners in Afrika is. As die Here ons nie as bouers en herstellers hier wou hê nie, sou hy ons elders geplaas het.”

Afrikaners se plek in Afrika en die belangrike rol wat hul in dié kontinent se landbousektore speel, is iets waarvan dr. Theo de Jager, uitvoerende direkteur van die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai), baie weet en “vir dae lank” oor kan gesels.

Benewens sy rol by Saai dien hy ook tans as president van die Wêreldlandbou-organisasie (WLO) en is hy ook betrokke by Agri All Africa (AaA), ’n organisasie wat in Suid-Afrika gestig is om landbou in Afrika te ontwikkel. Hy was vir vier jaar ook voorsitter van die pan-Afrika-boere-organisasie (Pafo). In dié rol het hy die kontinent plat gereis en blad geskud met mense uit 44 van die 55 lande in Afrika.

“Afrika is ’n paradys en die idee dat dit die armste kontinent is, is onwaar. Dit is die rykste kontinent, met die beste natuurlike hulpbronne, maar met die armste mense.”

Dr. Theo de jager

Volgens De Jager is daar nêrens anders in Afrika ’n gemeenskap wat Suid-Afrikaanse boere kan klop as dit by voedselverskaffing kom nie en moet hul met hul kennis en ervaring leiding neem om Afrika op landbougebied te help ontwikkel . “Afrikaners het 360 jaar se ondervinding van hoe om in Afrika te boer, terwyl buitelanders nog nie veel sukses in Afrika behaal het nie. Ons het meer as ’n missie, ons het ’n roeping hier in Afrika. Jy moet egter jou hart vir die kontinent en daardie roeping oopmaak.”

Talle uitdagings soos korrupsie, veiligheid, grondbeleide, oorbevolking en hongersnood kelder egter die kontinent se potensiaal. De Jager beskryf Afrika se demografiese realiteit as ’n swaard wat oor die kontinent se kop hang en waarsku dat vandag se Afrikane die oorlog teen honger en armoede moet voer. “Afrika se probleme is egter ook ons in Suid-Afrika se probleme want geen rivier is breed genoeg om honger mense uit te hou nie.”

Ondanks die verskeie uitdagings meen De Jager dat Afrika steeds die grootste onontginde potensiaal ter wêreld het en dat landbou kan help om welvaart op dié kontinent te skep. “Afrika is ’n paradys en die idee dat dit die armste kontinent is, is onwaar. Dit is die rykste kontinent, met die beste natuurlike hulpbronne, maar met die armste mense.”

Hy benadruk ook die belangrikheid van vennootskappe tussen boere en plaaslike gemeenskappe asook die feit dat boere wat grond in Afrika wil besit met ander gemeenskappe oor die weg moet kom. “Wanneer jy oor die Zambezi ry, voel dit of jy wegry van rassisme af. In ander lande beskou mense Afrikaners as deel van Afrika. Dis net hier in Suid-Afrika, Zimbabwe en Namibië waar rassisme die pas van ontwikkeling definieer.”

Gesamentlike landbouontwikkelingsprojekte, soos dié van Saai en die Noga’s Post-gemeenskap, is daarom volgens De Jager ook uiters belangrik. AfriForum, Saai, AaA en ander rolspelers het in 2020 met die Boiphitlhelelo Koöperatief hande gevat om ’n gesamentlike landbouontwikkelingsprojek by die Noga’s Post-nedersetting van Thaba ’Nchu naby Bloemfontein aan te pak. In Julie vanjaar is die eerste mielie-oes van dié gesamentlike inisiatief suksesvol gestroop. “Die helfte van die mense in Afrika leef uit die landboubedryf, welvaart moet net nou daaruit geskep word.”

Suid-Afrikaanse boere boer tans in meer as 40 Afrikalande, maar De Jager vertel dat verskeie Europese lande ook graag na hulle vry. “Suid-Afrikaanse boere, veral jonges, word met ope arms in lande soos Portugal en Hongarye verwelkom en dit skep ’n goeie geleentheid vir diplomatieke betrekkinge tussen ons en hulle.”

Die “diesel in sy tenk” is egter om weer sterre in jongmense se oë te sien as hulle aan hul eie kontinent dink. “As ons jongmense nie drome in Afrika het nie, het ons nie meer ’n toekoms hier nie. Dié kontinent is deel van ons naam en identiteit en iets wat ons nie kan afskud nie.”

Soortgelyke plasings