|

Winterberg-plaaswag ontvang veiligheidstoerusting

AfriForum se nuwe Winterberg-plaaswag het op 11 Julie veiligheidstoerusting ontvang om hulle behoorlik toe te rus vir hulle taak om die gemeenskap doeltreffend met patrollies te beveilig. Dit volg nadat die Uitenhage-tak dié behoefte weens ’n toename in misdaad in die omgewing geïdentifiseer het.

Die veiligheidstoerusting sluit onder meer die volgende in: AfriForum-glimbaadjies, noodhulpsakke, voertuigmagnete, pepergas, opvoubare kegels en tweerigtingradio’s wat die Winterberg-plaaswag met al die ander buurtwagte in die provinsie verbind. Tans is daar agt AfriForum-buurtwagte in die Oos-Kaap.

“AfriForum se plaaswag- en buurtwaglede ontvang gereeld opleiding in die uitvoer van operasies, regsaspekte, radiokommunikasie, vuurwapenwetgewing, toneelhantering, beskerming van huis en haard, administrasie, steunstelsels, en doeltreffende bevel en beheer sodat hulle enige situasie op die regte manier kan hanteer,” sê Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.

“Nou kan ons plaaswagte gemeenskapslede help omdat hulle die regte opleiding en toerusting ontvang het,” sê Darius Stumke, leier van die Winterberg-plaaswag.

AfriForum se Winterberg-plaaswag moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak. Skakel gerus vir Tania Pienaar by 067 739 0871.

Soortgelyke plasings