|

AfriForum se Krugersdorp-tak verkla Mogale City-munisipaliteit by MRK oor gereelde brande op Luipaardsvlei-vullisterrein

AfriForum se Krugersdorp-tak het op 2 September ’n klag by die Suid-Afrikaanse Menseregte Kommissie (SAMRK) teen die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit ingedien oor die gereelde brande op die Luipaardsvlei-vullisterrein. Die gasse wat deur hierdie brande vrygelaat word, is nie net sleg vir die omgewing nie maar hou ook ’n groot gesondheidsrisiko vir inwoners in.

Die SAMRK het ontvangs van die klagte erken en gaan komende Dinsdag 10 September saam met AfriForum aan die vullisterrein besoek aflê.

Die SAMRK-klagte volg nadat AfriForum op 22 Augustus ’n brief aan die Mogale City-munisipaliteit oor die aangeleentheid gestuur het. Luidens dié brief is daar sedert Junie verlede jaar gereelde brande op die Luipaardsvlei-vullisterrein. In die brief versoek AfriForum ’n aksieplan van die munisipaliteit om die probleem op te los, maar geen terugvoer is ontvang nie.

Die mees onlangse brand het net meer as ’n week gelede uitgebreek – materiaal onder die grond smeul egter nog steeds as gevolg van dié brand.

Slegs in die afgelope agt maande het daar vyf brande op die vullisterrein uitgebreek. Die masjinerie, waaronder skrapers en kompakteerders, is nou al vir ’n paar maande buite werking. Daar is ook geen waterpunt op die terrein om brandweerwaens met water vol te maak om die brande te blus nie. Die brande word vermoedelik deur rommelversamelaars veroorsaak.

Die brande het ’n groot uitwerking op die gemeenskap. Groot rookwolke hang oor twee nabygeleë skole wanneer daar ’n brand op die vullisterrein uitbreek. Die rook het ook ’n negatiewe impak op asmalyers en mense met ander respiratoriese probleme.

Volgens Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wesrand, is dit onaanvaarbaar dat die Mogale City-munisipaliteit nog geen stappe gedoen het om die probleem met die gereelde brande op die Luipaardsvlei-vullisterrein hok te slaan nie. Blignault moedig ook die gemeenskap aan om aan te hou om klagtes oor die brande by die munisipaliteit in te dien.

Die Krugersdorp-tak doen ’n beroep op die gemeenskap om by hul plaaslike AfriForum-tak betrokke te raak om ’n daadwerklike verskil te maak. Klik hier om aan te sluit.

Soortgelyke plasings