|

AfriForum se Laeveld-buurtwagte verwelkom hommeltuigvlieëniers  

AfriForum se Malalane-buurtwag het onlangs twee hommeltuigvlieëniers in Orania laat oplei. Dié vlieëniers gaan die AfriForum-buurtwagte in die Laeveld voortaan met veiligheidsaksies ondersteun.

Hommeltuie is reeds met groot sukses gebruik tydens die Spioenkop- en Cromdale-grondgryp, asook die stakings in Barberton vroeër vanjaar. Dit kan ook aangewend word om ondersteuning te bied wanneer plaasaanvalle plaasgevind het.

Buurtwagte kan hommeltuie aanwend om areas te verken sonder om persone in gevaar te stel. Inligting wat tydens verkenning ingewin word – byvoorbeeld van brandpunte in die direkte omgewing, moontlike wapens en die teenwoordigheid van verdagtes – kan die SAPD en ander sekuriteitsdienste in hul werk ondersteun.

Die vlieëniers is opgelei in die regsaspekte van hommeltuievlugte, hoe om die hommeltuig veilig te beman en ook hoe om tydens operasies suksesvol met grond-tot-lug-radio’s te kommunikeer. Vlieëniers werk in spanne van twee tydens veiligheidsoperasies, maar albei operateurs kan die tuig beheer.

“Die span sal voortaan aan al ons buurtwagte in die Laeveld-omgewing ondersteuning bied. Hul optrede gaan lewens beskerm en verseker dat korrekte besluite tydens veiligheidsoperasies vroegtydig geneem kan word”, sê Hillel Coetzer, AfriForum se hoof van Gemeenskapsveiligheid vir die noordstreek.

Soortgelyke plasings