|

Sukses: Mynmaatskappy laat vaar aansoek om steenkool in suide van Krugerwildtuin te myn

Dit het onder die burgerregteorganisasie AfriForum se aandag gekom dat die mynmaatskappy, wat steenkool aan die suidelike grens van die Krugerwildtuin wou myn, sy aansoek teruggetrek het.

Tenbosch Mining (Edms.) Bpk. se omgewingskonsultant het in ’n kennisgewing aan al die belanghebbendes gesê dat Tenbosch hul aansoek vir ’n mynlisensie en omgewingsgoedkeuring in die wildtuin terugtrek.

“AfriForum verwelkom hierdie besluit. Dit is wel die agste keer dat daar ’n aansoek gebring word vir steenkoolmynaktiwiteite in hierdie spesifieke area, dus sal ons nog hierdie tipe mynaktiwiteite aan die suide van die Krugerwildtuin – wat ’n grootskaalse impak sal hê – fyn dophou,”  sê Lambert de Klerk, bestuurder vir omgewingsake by AfriForum.

“Ons moedig ook gemeenskapslede aan om ons in kennis te stel van enige ander mynaktiwiteite in daardie area. Aangesien die einste mynmaatsksppy – met dieselfde direkteure – al twee keer ’n naamsverandering ondergaan het sedert AfriForum se betrokkenheid en net weer ’n soortgelyke aansoek gebring het, sal AfriForum paraat bly en die kwessie moniteer,” sluit De Klerk af.

AfriForum het in 2019 ook strafregtelike klagte by die SAPD ingedien nadat dit aan die lig gekom het dat Singo Consulting – die omgewingskonsultant wat destyds namens Manzolwandle Investments (Edms.) Bpk. ’n omgewingsimpakstudie gedoen het – na bewering bedrog in dié omgewingsimpakstudie gepleeg het. AfriForum wag steeds op terugvoer van die SAPD in hierdie verband.

Soortgelyke plasings