|

AfriForum se Lydenburg-tak kry nuwe brandbestrydingswaentjie

Die AfriForum-tak in Lydenburg het op 11 Oktober 2023 ’n nuwe brandbestrydingswaentjie aangeskaf om die gemeenskap beter te kan help in tye van nood. Die aankoop van hierdie waentjie vorm ’n belangrike deel van AfriForum se verbintenis tot die beskerming van gemeenskappe en die handhawing van veiligheid.

Dié brandbestrydingswaentjie is toegerus met moderne toerusting en tegnologie wat die taklede in staat sal stel om vinniger en meer doeltreffend tydens noodsituasies te reageer.

“Hierdie brandbestrydingswaentjie sal ’n onmisbare hulpbron wees om brande te bestry en mense in nood te help Die tak wil graag dankie sê aan ons lede, borge en die gemeenskap vir hulle onophoudelike ondersteuning en bydraes wat hierdie aankoop moontlik gemaak het. Dit is danksy die samewerking en die betrokkenheid van ons gemeenskap dat ons kan voortgaan om ons omgewing te beskerm,” sê Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

“Ons is trots op die toewyding en opoffering van ons lede wat gereed is om op te tree in noodsituasies en om te verseker dat ons gemeenskap veilig bly. Hierdie nuwe brandbestrydingswaentjie is ’n verdere bewys van ons verbintenis tot dienslewering en die beskerming van die inwoners van Lydenburg,” sê Erich Venter, voorsitter van AfriForum se Lydenburg-tak.

Stuur gerus ’n e-pos na voorsitter.lydenburg@afriforumtak.co.za vir meer inligting oor die nuwe brandbestrydingswaentjie en dié AfriForum-tak se werk in die gemeenskap.

Soortgelyke plasings