|

Energie-indaba: Kundiges is dit eens dat ’n verskeidenheid oplossings vir Suid-Afrika se kragkrisis nodig is

Die Afrikaner-Afrika Inisiatief (AAI), wat twaalf Afrikaner-organisasies en leiers verteenwoordig, het met die ondersteuning van die Konrad-Adenauer-Stiftung en AfriForum ’n energie-indaba vir plaaslike owerhede in Kaapstad georganiseer.

Dit is duidelik dat ondanks die regering en munisipaliteite se hopelose mislukkings en gebrek aan politieke wil om oplossings en antwoorde vir die kragkrisis te bied, die kundigheid en bereidwilligheid wel beskikbaar is om Suid-Afrikaners uit hierdie moeras te lig.

Chris Opperman, sameroeper van die AAI, het beklemtoon dat gemeenskappe moet saamwerk om innoverende oplossings vir die voortslepende energiekrisis te vind. “Die AAI beywer hom vir dialoog en wil ’n atmosfeer van wedersydse respek en vertroue skep.

“Soos wat pres. Cyril Ramaphosa onlangs gesê het, is ’n nuwe konsensus in die land nodig. Afrikaners wag op die groenlig om deel van die oplossings vir die land te word. As groep voel Afrikaners vervreem en hulle wonder of daar vir hul kinders ’n toekoms in die land is. Daarom is hulle meer as gereed en bereid om te help om die land te red.”

Christoph Kleiber, verteenwoordiger van die Konrad-Adenauer-Stiftung en Chris Opperman, sameroeper van die Afrikaner-Afrika Inisiatief

Christoph Kleiber, verteenwoordiger van die Konrad-Adenauer-Stiftung, sê daar is baie teenstrydighede rondom die energie-opwekkinggesprek in die wêreld. Vir Afrika klink die gesprek dat fossielbrandstowwe in kragopwekking verminder moet word, selfs bespotlik gegewe die feit dat soveel mense nog geen toegang tot elektrisiteit het nie. “Daar is egter werklike uitdagings wat deur klimaatverandering veroorsaak word. En indien daar nie iets hieraan gedoen word nie, gaan die gevolge vir die mens baie erg wees.”

Kleiber sê sienings ten opsigte van kragopwekking moet verander. Hy meen ook verhoogde brandstofpryse moet voor die deur van Rusland gelê word wat die oorlog in Okraïene begin het en diegene wat dié oorlog nie veroordeel nie, kan nie kla nie.”

Volgens Kleiber sal die gebruik van steenkool, gas en ander fossielbrandstowwe op die langtermyn uitgedien wees. En terwyl kernkrag ook omstrede is, lê die antwoord in die toekoms uiteindelik in hernubare hulpbronne.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het verwys na die ineenstorting en krisis waarbinne die meeste munisipaliteite hul bevind sowel as die verwoestende gevolge waaronder inwoners gebuk gaan.

Hy het die selfdoen-benadering van AfriForum en sy 165 takke reg oor die land verduidelik en gesê dit is ook ’n stryd gegewe die vyandige ingesteldheid van munisipaliteite en rade wat nie vir groter samewerking te vinde is om oplossings te soek nie. In die opsig het gemeenskappe geen ander uitweg as om hul op wetgewing te beroep om groter samewerking te verkry nie.

AfriForum het kundigheid om munisipaliteite by te staan, maar dan moet hulle bereid wees om saam te werk.

Geordin Hill-Lewis, burgermeester van Kaapstad, sê beurtkrag is die grootste handrem vir die vooruitgang van die ekonomie. Hy meen armoede kan nie gebreek word as beurtkrag nie beëindig word nie.

Hy het verskeie strategieë en projekte uitgelig waarmee Kaapstad reeds besig is of in die afsienbare toekoms gaan uitrol om die kragprobleme die hoof te bied. “Ons kan nie wag vir Eskom nie en ons moet die beleidsverwarring van die regering ook oorkom. Wat ook frustrerend is, is dat mense aan mislukkings en onbevoegdheid begin gewoond raak. Ons kan dit nie toelaat nie.”

Hy het uitgewei oor die Steenbras hidro-elektrisiteitskema wat groot moontlikhede inhou.

Kaapstad kyk na verskeie programme om beurtkrag binne 50 maande iets van die verlede te maak. Dit sluit in finansiële vergoeding vir huishoudings en industrieë wat sonkrag opwek en in die netwerk kan terugstoot. Daar word ook gekyk na tenders vir onafhanklike energieverskaffers (ongeag of dit deur son, wind, gas of watter tegnologie ook al is)  én wat goedkoper as Eskom-pryse is.

Nog ’n moontlikheid is die afstandbeheerde afskakeling van huishoudings se geisers in nie-piektyd wat kan bydra tot die vermindering van beurtkrag in die stad.

Hill-Lewis het ook ’n pleidooi gelewer dat munisipaliteite wat Eskom betaal, beter behandeling moet kry. Hy meen ondanks die feit dat Kaapstad Eskom R900 miljoen per maand betaal en die kragverskaffer niks skuld nie word dit dieselfde as ander behandel wat nie betaal nie.

Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, het die operasionele, infrastrukturele en finansiële dilemma en uitdagings van die voorsiener uitgelig. Volgens hom is daar eenvoudig nie kapasiteit om in die land se kragbehoefte te voorsien nie en ongelukkig is daar nie kortpaaie om kapasiteit te verhoog nie. Instandhoudingswerk aan kragstasies is onvermydelik in die lig van hoe oud dit is. Wat Eskom se finansies betref, beloop die kragreus se skuld R400 miljard, terwyl munisipaliteite hulle ook R52 miljard skuld.

Oberholzer meen egter dit is moontlik om die krisis om te draai, maar daarvoor is die inkoop en samewerking van almal, ook die regering, dringend nodig. Hy het verduidelik dat ’n hibriede kragvoorsieningsmodel vir Suid-Afrika nodig is en dat kernkrag ook ’n fundamentele rol in die toekoms gaan speel. In die opsig word gekyk na die vervanging van die stoomopwekkers by Koeberg om die lewe daarvan met 20 jaar te verleng.

Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom

Met verwysing na van die uitdagings het hy gesê Eskom het R1 200 miljard nodig om in die toekoms in die land se behoefte te voorsien. Hiermee saam gaan ook gekyk word na die uitbreiding van infrastruktuur van tot 8 500 km se lyne wat vir transmissie en distribusie geïnstalleer moet word.

André Pienaar, stigter en uitvoerende hoof van C5 Kapitaal, het beklemtoon dat kernkrag deel van die oplossing vir die land se energieprobleme gaan wees en dat die land reeds ’n voorloper in die kernkragindustrie is. Dit gaan egter eers op die langtermyn gebeur.

André Pienaar, stigter en uitvoerende hoof van C5 Kapitaal

Chris Bosch, uitvoerende hoof van Rural Maintenance, het na gemeenskapsoplossings verwys en gesê hulle gaan byeenkom en saam moet besluit hoe hulle hul probleme gaan oplos. “Suid-Afrika gaan bietjie-vir-bietjie reggeruk word deur gemeenskappe wat opstaan en self ingryp.

Gemeenskappe besef al hoe meer dat hulle betrokke moet raak. Hulle besef hulle kan nie vir hul munisipaliteite wag nie.

Hy het verwys na wat hulle in Frankfort (Mafube) in die Vrystaat reggekry het wat ook die inkoop van die meerderheid inwoners insluit. “Ons het die munisipaliteit betaal (R22 miljoen) om nie betrokke te wees nie en ons het begin om die infrastruktuur reg te ruk en op te gradeer teen R18,9 miljoen. In die afgelope tien jaar het ons Eskom R709 miljoen betaal, terwyl die munisipaliteit in gebreke gebly het om hul rekening te betaal.”

Volgens Bosch is dit duidelik dat oplossings kom wanneer gemeenskappe na vore tree en toeganklik is. Die planne is om dit wat in Frankfort bereik is, ook na Villiers, Mookgopong en Saldanha uit te brei.

Chris Bosch, uitvoerende hoof van Rural Maintenance

Die indaba is ook deur burgemeesters van Mosselbaai, Plettenbergbaai, George en Riversdal in die Wes-Kaap, en Douglas, Springbok, Upington en Kimberley in die Noord-Kaap, asook kundiges uit die energiesektor en belanghebbendes uit die private sektor, bygewoon.

Soortgelyke plasings