|

Kamieskroon-tak se groot geskenk gereed vir (hittige) feestyd

AfriForum se Kamieskroon-tak se geskenk aan dié plaaslike gemeenskap is net betyds vir die feestyd. En in hierdie geweste is min geskenke groter as die geskenk van water. Juis daarom het die Kamieskroon-tak hul fokus op die voorsiening van skoon drinkwater vir inwoners hier nou voortgesit met die installering van ’n derde waterpomp en -motor. Die tak het reeds in November verlede jaar twee boorgatpompe en kontrolebokse in die Kamiesberg Plaaslike Munisipaliteit vervang.  

Die nuwe 3 kW-waterpomp en -motor word nou in ’n boorgat geïnstalleer en sal water aan die reserwe waterreservoir lewer. Dié pomp sal dus as rugsteun dien ingeval een van die ander pompe of boorgate onklaar raak en sodoende help toesien dat daar genoegsame skoon drinkwater vir dié gemeenskap gelewer kan word.

Die Kamiesberg-gebied gaan gebuk onder ’n geweldige droogte en daarom is toegang tot ondergrondse water noodsaaklik vir dié gemeenskap. In hierdie stadium is die brandende watertekort so ernstig dat water daagliks per vragmotor van Kamieskroon na verskeie dorpe in die Kamiesberg Plaaslike Munisipaliteit, insluitende onder meer Hondeklipbaai, Lepelsfontein, Leliefontein, Kliprand, Spoegrivier en Kharkams, vervoer moet word. 

AfriForum bedank almal wat ingespring het om ’n sukses van dié projek te maak, naamlik die Kamiesberg Plaaslike Munisipaliteit se elektriese afdeling, AfriForum Jeug se Upington-tak en Johan Aggenbach van Agrico Upington. 

“Toegang tot skoon water is ’n grondwetlike reg en dit is veral nou, gedurende Desember wanneer temperature tot meer as 40˚C styg, uiters noodsaaklik dat almal toegang tot skoon drinkwater het. AfriForum is verheug dat dié gemeenskap nou ook beter toegang tot hierdie noodsaaklike hulpbron sal hê. Ons sal in die toekoms voortgaan om druk te plaas op diensverskaffers en munisipaliteite om toe te sien dat hulle nie hul pligte in hierdie verband versuim nie,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap.  

Raak betrokke by AfriForum se Kamieskroon-tak om ’n verskil te maak.

Soortgelyke plasings