|

AFRIFORUM SE NOORDSTREEK-BUURTWAGTE VERHOOG SIGBAARHEID

Die AfriForum-buurtwagte in die noordstreek het die afgelope drie maande sigbaarheid in die drie provinsies in samewerking met verskeie veiligheidsinstansies verhoog as deel van die burgerregteorganisasie se nasionale sigbaarheidsprojek.

Nagenoeg 2 280 AfriForum-buurtwaglede en 1 204 ander veiligheidsrolspelers het tydens hierdie tydperk aan die verskeie sigbaarheidsprojekte deelgeneem.

Dit volg nadat AfriForum op 1 November 2020 ’n nasionale projek van stapel gestuur het om polisiëringsigbaarheid oor die feesseisoen te verhoog. Hierdie sigbaarheidsprojek het tot 15 Januarie 2021 voortgeduur.

Volgens Bronwen Pretorius, provinsiale veiligheidskoördineerder vir Mpumalanga, is dit ’n riem onder die hart om te sien dat AfriForum-buurtwagte altyd daar is om hul gemeenskappe te beveilig, ’n veiliger omgewing te skep, en goeie samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstansies handhaaf.

“AfriForum ondersteun enige buurtwag wat op ’n georganiseerde wyse wil funksioneer. Georganiseerde buurtwagte dra by tot proaktiewe optrede en dit lei tot ’n veiliger gemeenskap,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Gauteng.

“Terwyl misdaad gewoonlik oor Desember-vakansies toeneem, het die AfriForum-buurtwagte dit op hul skouers geneem om hul sigbaarheid en paraatheid te verhoog. Misdadigers verlaat ’n georganiseerde gemeenskap,” sê Andries Opperman, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Limpopo.

Om betrokke te raak by AfriForum se buurtwagte in Gauteng, Mpumalanga en Limpopo, laai die Telegram-toep af en soek na @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot).

Soortgelyke plasings