| |

AfriForum-buurtwagte help op misdaad- en ongelukstonele tydens massapatrollie

Die AfriForum-buurtwag in Moreletapark in Pretoria het Vrydagaand (19 April) op ’n skietvoorval gereageer waarin ’n vroulike slagoffer ernstig beseer is. Sy het ten tye van die voorval ’n kosaflewering buite haar huis in ontvangs geneem. Die vrou is gehospitaliseer nadat sy twee skietwonde aan haar maag opgedoen het. Met AfriForum se aankoms op die toneel, is twee verdagtes reeds in hegtenis geneem. Die plaaslike AfriForum-buurtwaglede het die omgewing toe vir ’n derde verdagte gefynkam.

In Brakpan aan die Oos-Rand het AfriForum-buurtwaglede ’n privaat veiligheidsmaatskappy gehelp om ’n verdagte vas te trek wat verbind word met moord en verkragting.

Albei dié voorvalle het gedurende AfriForum se eerste nasionale massapatrollie vir 2024 plaasgevind.

AfriForum se 177 buurt- en plaaswagstrukture het aan hierdie massapatrollie deelgeneem. Dié aksie vorm deel van AfriForum se nasionale veiligheidstrategie waarvolgens vrywilligers in dié organisasie se veiligheidstrukture verantwoordelikheid neem vir veiligheid in hul eie gemeenskappe.

Verskeie van AfriForum se Pretoria-gebaseerde buurtwagte het hul patrollies by die SolTech-kampus in Monumentpark begin. Die aktiwiteite is ook regstreeks op Facebook uitgesaai.

Lede van oor die hele land heen het aan patrollies in hul eie gemeenskappe deelgeneem en op verskeie misdaadvoorvalle gereageer. Buurtwagte in Pretoria en Bronkhorstspruit het hul patrollies toegespits op die N4-hoofweg en ander paaie wat berug geword het vir spykerlokvalle (spikings).

Buurtwagte landswyd het ook ondersteuning gebied op verskeie ongelukstonele.

“Die enorme rol wat hierdie vrywilligers speel om hul gemeenskappe te help beveilig, kan nie onderskat word nie. AfriForum sal voortgaan om sy veiligheidstrukture uit te brei en gehalte veiligheidsopleiding aan sy groeiende aantal patrolleerders te verhoog. Die oplossing tot die enorme misdaadprobleem in die land lê in goed georganiseerde en opgeleide gemeenskappe,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

Sluit aan by jou naaste AfriForum-buurtwag: Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za.

Soortgelyke plasings