|

Nelspruit-tak staan Grace Baby Haven by met skenking

Die AfriForum-tak in Nelspruit het op 3 Julie die Grace Baby Haven, ’n veilige hawe vir weggooi- en mishandelde babas, in hierdie stad besoek om onder meer 810 babadoeke en klere af te lewer. Hierdie besoek vorm deel van ’n projek wat die Nelspruit-tak begin het om doeke en basiese benodighede aan instansies te skenk wat nie noodwendig die nodige fondse het om dit self aan te koop nie.

“Dit is vir ons ’n voorreg om hierdie benodighede aan die Grace Baby Haven te kan skenk, aangesien die kostes van doeke en basiese benodighede die laaste tyd skerp gestyg het. Ons is hier om ons gemeenskap by te staan en dus is ons ook trots om hierdie projek te kon begin,” se Angelene Fourie, ’n aktiewe lid van die Nelspruit-tak.

“Dit is van kardinale belang dat ons instansies soos die Grace Baby Haven ondersteun, aangesien hulle omsien na weerbare en mishandelde babas met geen ander tuiste of heenkome nie,” sê Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

AfriForum se Nelspruit-tak nooi lede van die publiek uit om betrokke te raak by die plaaslike projek om sodoende ’n verskil in die gemeenskap te maak.

Soortgelyke plasings