|

AfriForum se Brits-buurtwag verhoog sigbaarheid voor feesseisoen

AfriForum se Brits-buurtwag het op 29 November 2019 in samewerking met die plaaslike GPF, SAPD en Monitor Net aan dié burgerregteorganisasie se nasionale sigbaarheidspatrollie deelgeneem. Altesaam 40 voertuie het ’n afstand van 834 km afgelê.

AfriForum het op 30 Oktober 2019 ’n nasionale projek van stapel gestuur om polisiëringsigbaarheid oor die komende feesseisoen te verhoog. Misdaad sal na verwagting oor die feesseisoen toeneem; daarom wil AfriForum se buurtwagte ’n verskil in hul onderskeie gemeenskappe maak deur inwoners met hoë sigbaarheidsaksies gerus te stel en te beveilig.

“Sigbaarheid speel ’n deurslaggewende rol om misdaad te bekamp. AfriForum-buurtwagte sal daarom klem op verhoogde sigbaarheidsaksies in hul onderskeie gebiede lê,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

 

“Aksies soos dié bevorder samewerking tussen verskillende rolspelers. Gemeenskappe moet eienaarskap van hul eie veiligheid neem en die SAPD binne die raamwerk van die wet ondersteun om hul gemeenskap te beveilig,” sê Thys van Heerden, voorsitter van AfriForum se Brits-buurtwag.

Raak by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS jou naam na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings