|

AfriForum se Viljoenskroon-tak toets vir cholera

Die AfriForum-tak in Viljoenskroon het op 8 Junie watertoetse gedoen om vas te stel of daar cholera teenwoordig is in die boorgate, munisipale water en die bewaararea. Daar is op drie plekke monsters geneem om by ’n geakkrediteerde laboratorium getoets te word. Die monsters is geneem by ’n boorgat in die dorp, ’n kraan met munisipale water by Salmon Senekal Hoёrskool en by die bewaararea. Die uitslae van die toetse is op 13 Junie aan die tak deurgegee.

Die goeie nuus is dat daar op geen van hierdie plekke tekens van cholera gevind is nie en dat die boorgatwater ook nie E.coli in het nie. Die slegte nuus is egter dat daar by die ander twee plekke positiewe tekens van E.coli en fekale kolivorme gevind is. Dit beteken dat daar tekens van riool in die munisipale water en by die bewaararea is, wat ander siektes as cholera kan veroorsaak.

“Ons maan inwoners van Viljoenskroon om nie enige water te gebruik voordat die water eers gekook is nie. Inwoners moet ook nie in die water swem nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.  

Die Viljoenskroon-tak het al met die plaaslike munisipaliteit gepraat oor die gereelde rioolstortings in Viljoenskroon en Rammulotsi. Daar is egter nog nie ’n volhoubare oplossing op die tafel nie.

Die rioolstorting is ook by die Departement van Water en Sanitasie (DWS) aangemeld. Die uitslae van die watertoetse is reeds aan DWS deurgegee met die versoek dat daar dringend opgetree moet word. 

“Die swak bestuur en onbevoegdheid van munisipaliteite is nou vinnig besig om hulle in te haal. Dit is egter hartverskeurend dat ons waterbronne, waarsonder nie mens óf dier kan klaarkom nie, in die proses beskadig word. Ons sal opvolg toetse doen en die gemeenskap op hoogte hou van enige veranderinge al dan nie,” sluit Pretorius af.

Raak by Viljoenskroon se AfriForum-tak betrokke en help om jou omgewing beter te maak. Kontak Boet Wienand by 082 888 1708.

Soortgelyke plasings