|

AfriForum se Ermelo-buurtwag verhoog sigbaarheid tydens kragonderbreking

Die AfriForum-buurtwag in Ermelo het op 19 en 20 November 2021 ’n hoë sigbaarheidspatrollie gehou terwyl die Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit ’n 88 kV-transformator vervang het. Die doel van die sigbaarheidspatrollie was om misdadigers die gebied te ontsê terwyl ’n groot gedeelte van Ermelo sonder krag was.

Tydens die patrollies is daar onder meer gefokus op die beskerming van belangrike infrastruktuur soos substasies. Tussen 24 en 32 patrolleerders het die Vrydag- en Saterdagaand gepatrolleer. ACSU-sekuriteitsdienste, die sektor vier-buurtwag en die SAPD het aan die patrollie deelgeneem terwyl die Calstar-groep die patrollie ondersteun het en koffie aan die patrolleerders geskenk het.

“Tydens situasies soos hierdie is dit belangrik om ’n groot impak te maak. Ons moenie ’n houvas aan misdadigers bied nie,” sê Heinrich Jansen van Rensburg van AfriForum se Ermelo-buurtwag.

Sluit vandag nog by AfriForum se Ermelo-buurtwag aan: SMS “Ermelo” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings