|

AfriForum se privaatvervolgingseenheid help vrou wat geskors is ná voorval by Chamberlain

Chamberlain in Centurion het Danielle Barendse (20) geskors, hangende ’n dissiplinêre verhoor, ’n dag nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid haar gehelp het om klagtes van aanranding en crimen injuria by die Wierdabrug-polisiekantoor teen ’n kliënt te lê.

Die klagtes en skorsing spruit voort uit ’n voorval wat meer as ’n maand gelede in dié winkel plaasgevind het.

Op 8 Oktober 2022 het ’n manlike kliënt glo vir Barendse in die winkel rondgejaag en haar na bewering valslik as ’n rassis ten aanskoue van almal in die winkel uitgekryt. Die betrokke man is ’n senior bestuurder by die Tshwane-metroraad.

Ons is trots op Danielle dat sy bereid is om op te staan teen hierdie klagtes.

“Chamberlain het aangedui hul kliënt is woedend omdat  Danielle klagtes teen hom gelê het. So in plaas daarvan om van meet af stappe te doen om seker te maak dat hul werknemer veilig voel in die werkplek, besluit Chamberlain eerder om haar meer as ’n maand later, aldus hulle, vir ‘haar eie beskerming’ te skors,” sê Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid

Barendse sê sy het van die man probeer wegkom en het vir haar lewe gevrees. “Ek is dankbaar ek het iemand gekry om my te help. Nie almal is so gelukkig nie. Die werk het gesê hulle sal my bystaan, maar toe dit by daardie punt kom het hulle nie omgegee nie en my alleen gelaat. Hulle wou hê ek moes vir die kliënt om verskoning vra, maar ek het gedink ek moenie dit doen nie, want ek kan skuldig bevind word en dit sal teen my tel.”

Venter sê geslagsgebaseerde geweld is toenemend ’n probleem in Suid-Afrika en daar moet iets aan die tendens gedoen word. “Ons is trots op Danielle dat sy bereid is om op te staan teen hierdie klagtes. Geslagsgebaseerde geweld het ’n pandemie in Suid-Afrika geword en dan is daar weereens vals aantygings van rassisme gemaak. Dis belangrik dat mense opstaan teen sulke klagtes. As ’n mens dit net los, lyk dit of jy die gedrag kondoneer en dan is daar net meer en meer sulke voorvalle.”

Voor is Danielle Barendse (vermeende aanrandingslagoffer) en Natasha Venter (adviseur by die privaatvervolgingseenheid) en agter Daleen du Plessis (versoekontleder by die privaatvervolgingseenheid) en Andrew Leask (hoofondersoeker by die privaatvervolgingseenheid)

Chamberlain se aanvanklike klagte teen Barendse was dat sy onprofessioneel teenoor ’n kliënt opgetree het deur van hom weg te stap, ondanks die feit dat dit die winkel se eie interne beleid is oor hoe om moeilike kliënte te hanteer.

“Die kennisgewing van skorsing dui nou egter aan dat die kliënt bewerings met ’n ‘rassistiese ondertoon’ teen Danielle maak. Dít nadat die Chamberlain-bestuur Woensdag aan die privaatvervolgingseenheid erken het dat Danielle glad nie rassisties opgetree het nie en hul kliënt self aanvanklik die bewerings gemaak het dat Danielle hom gevloek het. Die bestuurder se onmiddellike houding was dat Danielle die laaste persoon is wat hy sou glo ’n kliënt sou vloek. En nou die skorsing. Die bewerings van rassisme is nie net klaarblyklik vals nie, maar klaarblyklik ’n nagedagte,” sê Venter.

Barendse sê sy hoop geregtigheid sal in die saak geskied en dat sy nie net vir haarself opstaan nie, maar ook vir ander vroue wat in soortgelyke situasies beland.

Danielle Barendse

Die privaatvervolgingseenheid ondersteun tans vir André Fourie in ’n soortgelyke situasie waar hy ook valslik van rassisme aangekla is.

Soortgelyke plasings