|

Forum Nuus: Dié week se Blitsflits

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vandeesweek by ’n paar sake betrokke geraak om te verseker dat geregtigheid geskied en alhoewel die jaar vinnig na ’n einde toe snel bly AfriForum se takke steeds baie bedrywig.

Danielle Barendse het Donderdag ’n kennisgewing van Chamberlain in Centurion gekry om te sê sy is geskors. Dit volg ná ’n insident van meer as ’n maand gelede toe sy van ’n kliënt moes vlug toe sy “gevoel het asof haar lewe bedreig word”. Hy het haar ook valslik as rassis uitgekryt. Die privaatvervolgingseenheid het Barendse reeds gehelp om klagtes van aanranding en crimen injuria teen die kliënt in te dien en sal haar ook help wanneer haar dissiplinêre verhoor gehou word.

In ’n ander saak help die privaatvervolgingseenheid Sonia Leithgöb met die staat se saak teen Letitia van den Berg. Leithgöb het die eenheid genader omdat sy bekommerd was oor ’n gebrek aan kommunikasie van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in hierdie saak. Van den Berg het die verwagting geskep dat Leithgöb en haar man ’n babatjie sou kon aanneem, maar toe gesê die biologiese ma het van plan verander. Inderwaarheid het ’n ander gesin die baba aangeneem.

AfriForum Jeug het vrae aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) gestel om te bepaal watter stappe UNISA al gedoen het of gaan doen om akademiese oneerlikheid by dié instelling stop te sit. Dit volg nadat AfriForum Jeug deur ’n student genader is oor verdagte teksboodskappe wat UNISA-studente ontvang waarin regstreekse “eksamenhulp” en ’n waarborg van 90% of hoër uitslae, teen betaling, aangebied word.

René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug

Die jeugorganisasie het ’n video en ’n brief aan UNISA gestuur waarin akademiese ongerymdhede by hierdie instelling ontbloot word. AfriForum Jeug neem sterk standpunt in en is van mening dat sulke optrede sowel UNISA se integriteit as die integriteit van UNISA-studente en die gehalte van kwalifikasies in gedrang bring.

Die AfriForum-buurtwag in Witrivier het ’n kaart in die raadsaal van die plaaslike polisiekantoor aangebring met omvattende inligting wat sal help om misdaad te bekamp.

In Kamieskroon het die AfriForum-tak boorgatpompe aan die munisipaliteit geskenk en geïnstalleer. Die munisipaliteit het hand bygesit en die plaaslike elektrisiën het al die bedrading gedoen. Die munisipaliteit het ’n span werkers verskaf om die tak te help met die werk en installering van die pompe. Dié munisipaliteit sukkel al jare lank om water aan dié droogte geteisterde gebied te voorsien.

Soortgelyke plasings