|

Chamberlain skors slagoffer van geslagsgebaseerde geweld en crimen injuria ná bestuur onderneem om haar te beskerm

AfriForum se privaatvervolgingseenheid, wat tans vir die 20-jarige Danielle Barendse bystaan in haar saak teen ’n kliënt van Chamberlain in Centurion, is gister in kennis gestel dat sy geskors is hangende ’n dissiplinêre verhoor teen haar vir ’n voorval wat reeds meer as ’n maand gelede plaasgevind het.

Dit is ook die betrokke voorval wat daartoe aanleiding gegee het dat die eenheid vir Barendse op 16 November gehelp het om klagtes van aanranding en crimen injuria by die Wierdabrug-polisiekantoor te lê. Die klagtes spruit voort uit ’n voorval op 8 Oktober 2022 toe ’n manlike kliënt vir Barendse in die winkel rondgejaag en haar valslik as ’n rassis voor die hele winkel uitgekryt het. Die betrokke man is ’n senior bestuurder by die Tshwane-metroraad.

“Chamberlain het aangedui dat hul kliënt woedend is dat Danielle klagtes teen hom gelê het. So in plaas daarvan om van meet af aan stappe te neem om seker te maak dat hul werknemer veilig voel in die werkplek, besluit Chamberlain eerder om haar meer as ’n maand later, volgens hulle, vir ‘haar eie beskerming’ te skors,” sê Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Venter het ook aangedui dat die Chamberlain-bestuur se aanvanklike klagtes teen Barendse was dat sy onprofessioneel opgetree het deur van die kliënt af weg te stap, ten spyte van die feit dat dit die winkel se eie interne beleid is oor hoe om moeilike kliënte te hanteer. “Die kennisgewing van skorsing dui nou egter aan dat die kliënt bewerings met ’n ‘rassistiese ondertoon’ teen Danielle maak. Dít nadat die Chamberlain-bestuur Woensdag aan die privaatvervolgingseenheid erken het dat Danielle glad nie rassisties opgetree het nie en hul kliënt self aanvanklik die bewerings gemaak het dat Danielle hom gevloek het. Die bestuurder se onmiddellike houding was dat Danielle die laaste persoon is wat hy sou glo ’n kliënt sou vloek, en nou die skorsing. Die bewerings van rassisme is nie net klaarblyklik vals nie, maar klaarblyklik ’n nagedagte,” sê Venter.

Dit blyk ook dat Barendse die slagoffer van geslagsgebaseerde geweld was deurdat hierdie man haar laat vrees het vir haar lewe, asook dat hy haar fisies te lyf sou gaan. “Hierdie tipe gedrag kan neerkom op aanranding. Waarom Chamberlain nie dadelik opgetree het en hierdie man uit die winkel laat verwyder het nie, is ondenkbaar. Op die beeldmateriaal van die voorval kan ’n mens sien hoe verontrus hierdie jong vrou is, asook hoe aanvallend die man is, maar daaraan heg Chamberlain klaarblyklik geen waarde nie,” sluit Venter af.

Soortgelyke plasings