|

AfriForum se Rustenburg-tak begin volhoubare skoonmaakprojek

Die AfriForum-tak in Rustenburg het in September ’n volhoubare skoonmaakprojek van stapel gestuur. Die AfriForum-span is hard aan die werk en maak drie maal per week in verskeie gebiede in die dorp skoon. Tydens die projek word die gras op sypaadjies en oop spasies in die dorp gesny, terwyl rommel ook in hierdie areas opgetel word. AfriForum het in September in die volgende areas skoongemaak: Dawesstraat, op die hoek van Beyers Naudérylaan en Bovenstraat, Uniestraat en Piet Groblerstraat.

“Ons het die projek begin omdat ons nie kan terugstaan en kyk hoe die munisipaliteit die dorp laat agteruitgaan nie. Hierdie projek is dus deel van ons strategie om te veg teen munisipale verval sodat ons ons dorp vir ons en ons kinders bewaar. Ons beplan ook om die vul van slaggate en die verf van straatname en verkeerstrepe deel te maak van die projek,” sê Chris Trytsman, voorsitter van AfriForum se Rustenburg-tak.

“Rustenburg is een van AfriForum se ankergemeenskappe daarom is dit krities dat ons veg teen die gebrek aan munisipale dienslewering in die dorp en self eienaarskap daarvoor neem. Ons doelwit is om areas te skep waar ons lede ’n goeie lewenstandaard kan geniet. Ek wil graag ook elke AfriForum-lid in Rustenburg bedank. Dit is julle finansiële bydraes wat hierdie projek moontlik maak. Met die gemeenskap se betrokkenheid kan ons dié projek volhoubaar en op ’n nog groter skaal aanpak,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Word vandag nog deel van AfriForum se Rustenburg-tak: SMS “Rustenburg” na 45351 (R1) of skakel vir Trytsman by 082 469 2221.

Soortgelyke plasings