|

Bronkies-paaie veiliger ná AfriForum druk op Tshwane-metro plaas

Volgehoue druk deur AfriForum se Bronkhorstspruit-tak op die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit om slaggate en straatligte te herstel het verlede maand vrugte afgewerp. Soveel so dat die Tshwane-metro altesaam 41 straatligte in die gebied herstel en 61 slaggate gevul het. Die metro het nagenoeg 13 ton gebruik om al dié slaggate te vul.

Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Groter Pretoria-Noord-streek, sê AfriForum het vroeg in April die slaggate en onklaar straatligte onder die Tshwane-metro se aandag gebring.

“Die Bronkhorstspruit-tak het daarop aangedring dat dit so gou moontlik herstel word, aangesien dit lewensgevaarlik is vir motoriste om op ’n donker pad te ry wat deurtrek is met slaggate,” sê Steinberg.

Die Tshwane-metro het gou werk daarvan gemaak om die straatligte te herstel en die slaggate te vul. Die burgerregteorganisasie sal egter voortgaan om op te tree wanneer die gemeenskap se belange nie eerste gestel word nie.

“AfriForum se plaaslike strukture in die Tshwane-metro sal steeds die nodige druk toepas om te verseker dat dienste aan gemeenskappe gelewer word. AfriForum is daartoe verbind om ’n vry, veilige en voorspoedige Suid-Afrika vir almal te bou.”

Raak vandag nog by AfriForum se Bronkhorstspruit-tak betrokke om ’n verskil in dié gemeenskap te maak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings