AfriForum se Sasolburg-tak skep hoop tydens boomplantmaand


Die AfriForum-tak in Sasolburg het 35 bome langs die R59 in Sasolburg as deel van dié burgerregte-organisasie se boomplantmaand geplant.

“Die bome speel nie net ’n belangrike rol wat die omgewing betref nie, maar gaan ook benut word om veiligheid te bevorder. Tesame met die herstel van ’n stukkende heining is die bome geplant langs die R59 met die doel om te keer dat gesteelde voertuie kortpaaie uit die dorp verkry en gevolglik hoofroetes moet volg wat met kameras toegerus is,” sê Stephen Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir die sentraalstreek.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n boomspesie wat algemeen voorkom as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca) is. AfriForum moedig dorpe aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard.

“Die Sasolburg-tak neem elke jaar aan AfriForum se boomplantprojek deel, want ons glo aksies soos hierdie lewer ’n positiewe bydrae tot die natuur en skep hoop vir ons gemeenskap,” sê Izak Lessing, voorsitter van AfriForum se Sasolburg-tak.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die veldtog betrokke te raak en deel te word van ’n beter en groener toekoms.

Soortgelyke plasings