|

AfriForum se Stellaland-buurtwagte hou nasionale massapatrollie

Die AfriForum-buurtwagte in Bloemhof, Christiana, Delareyville, Biesiesvlei en Vryburg het in samewerking met die SAPD, die plaaslike GPF, gemeenskapslede, verskeie sekuriteitsmaatskappye en veiligheidsinstansies ’n massapatrollie op 14 April in hul onderskeie gebiede uitgevoer om polisiëringsigbaarheid te skep. Die aksie het omstreeks 16:00 begin en tot 04:00 die volgende oggend voortgeduur.

Altesaam 102 patrolleerders het aan die patrollie deelgeneem en 2 231 km in 61 voertuie afgelê. Die hoofdoel van die patrollie was om sigbaarheid in die onderskeie gebiede te verhoog en sodoende misdaad teen te werk.

“Die Stellaland-buurtwagte sal voortdurend projekte aanpak en gereeld patrollies hou om misdaad in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstansies hok te slaan en veiligheid te bevorder. Dit is belangrik dat gemeenskappe en organisasies saam hande vat om misdaad te bekamp.  Die verhoogde sigbaarheid in dorpe speel ’n belangrike rol in gemeenskapsveiligheid en daarom is dit belangrik dat patrollies soos hierdie moet plaasvind,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Die Stellaland-buurtwagte wil graag elke patrolleerder en elke ander rolspeler wat deelgeneem het bedank vir hul opofferings.

Raak vandag nog by AfriForum se buurtwagte betrokke. Jy kan help om jóú omgewing te beveilig: Klik hier om by jou naaste buurtwag aan te sluit.

Soortgelyke plasings