| |

Onregmatige arrestasies: Skuldige beamptes moet aan die pen ry

AfriForum het ’n regspan aangestel om twee slagoffers van vermoedelike onregmatige arrestasies – wat tydens die landwye inperking plaasgevind het – in hulle onderskeie sake by te staan.

Tydens  die eerste voorval is ’n man met ’n geldige permit deur die SAPD afgetrek en op grond van ivoorverwante-oortredings gearresteer omdat hy ’n paar ou koedoehorings in sy voertuig se kattebak gehad het.

Tydens ’n ander voorval is ’n persoon gearresteer omdat hy sigarette in sy besit gehad het waarvoor hy nie ’n bewys van aankoop kon toon nie.

“’n Groot aantal wetstoepassingsowerheidslede het gedurende die staat van inperking hulle gebrek aan kennis rondom die heersende regulasies op verskeie geleenthede ten toon gestel. In baie gevalle is die polisielede bloot kwaadwillig en geniepsig. Ons het besluit om dié twee sake aan te pak onder meer met die doel om SAPD-lede en ander wetstoepassingsbeamptes te laat les opsê vir die onregmatige wyse waarop hulle burgers hanteer,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir Gemeenskapsveiligheid.

Die SAPD het op 19 Mei 2020 ’n dokument aan polisiestasies uitgereik wat sy lede weer eens verwittig het van wanneer arrestasies en geweld toegepas kan word. Die dokument stel ook pertinent dat lede wat nie die regte prosedures volg nie, persoonlik verantwoordelik gehou sal word vir enige vergoeding wat die SAPD vir dié lede se wangedrag moet opdok.

“Ons hoop om ’n presedent te skep wat wetstoepassingsbeamptes twee keer sal laat dink vóór hulle burgers boelie en magsmisbruik toepas,” sluit Kamfer af.

Soortgelyke plasings