|

AfriForum dien kommentaar teen Onteieningswetsontwerp by Vrystaatse provinsiale wetgewer in

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandeesweek verdere skriftelike kommentaar wat die Onteieningswetsontwerp (B 23 – 2020) sterk teenstaan, by die Vrystaatse provinsiale wetgewer ingedien.

Dié wetsontwerp is tans voor die Nasionale Raad van Provinsies, en daarom het individuele provinsies geleenthede vir die publiek gegee om kommentaar in te dien.

AfriForum het in 2023 skriftelike kommentaar teen die Onteieningswetsontwerp by die gekose komitee oor vervoer, staatsdiens en administrasie, openbare werke en infrastruktuur, asook die Gautengse wetgewer se portefeuljekomitee oor infrastruktuurontwikkeling en eiendomsbestuur ingedien. Daarbenewens het AfriForum se Gautengse verteenwoordigers in Junie mondelinge voorleggings teen die wetsontwerp gelewer. AfriForum het verder ook kommentaar teen hierdie wetsontwerp by die Wes-Kaapse provinsiale parlement se staande komitee oor infrastruktuur ingedien.

Volgens Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, is privaateiendomsreg van uiterse belang. “Enige wetsontwerp wat hierdie fundamentele reg bedreig, moet by elke geleentheid teëgestaan word.”

“Die ANC moet die boodskap hard en duidelik verstaan: Staatsgoedgekeurde diefstal van eiendom sal nie geduld word nie,” sluit Van Zyl af.

Die publiek kan kommentaar teen hierdie wetsontwerp lewer by www.onteiening.co.za.

Soortgelyke plasings