|

Gauteng-buurtwagte neem aan nasionale patrollie deel

AfriForum se buurtwagte in Gauteng het op 14 en 15 April aan AfriForum se nasionale patrollie deelgeneem. Die patrollie is in samewerking met verskeie sekuriteitsmaatskappye en gemeenskapslede uitgevoer, en word gehou om sigbaarheid reg oor Gauteng te verhoog.

21 buurtwagte in Pretoria, die Oos-Rand en die Wes-Rand het aan die patrollie deelgeneem. Altesaam 354 voertuie en 511 buurtwaglede van AfriForum asook verskeie veiligheidsinstansies en -rolspelers was deel van die sigbaarheidspatrollie. Gedurende die patrollie is 15 658 km afgelê en is hulp by 18  insidente verleen. Alle deelnemers het streng voldoen aan al die vereiste regulasies en het ten alle tye binne die raamwerk van die wet opgetree.

“Dit is vir AfriForum van kardinale belang om voort te kan gaan met sigbaarheidspatrollies ten einde die veiligheid van ons gemeenskappe te verseker,” sê Dewet Ungerer, waarnemende veiligheidspesialis en AfriForum se distrikskoördineerder vir die Groter Pretoria-Suid.

Tydens die nasionale patrollie het AfriForum se Edenvale-buurtwag twee booswigte, in besit van dagga gearresteer terwyl die Bronkhorstspruit-buurtwag ’n inbreker vasgetrek en aan ’n plaaslike sekuriteitsmaatskappy oorhandig het wat die amptelike arrestasie gemaak het. Die Groter Moot- en Centurion-takke het die geleentheid aangegryp om padveiligheid op te skerp deur ’n paar slaggate op te vul voordat die patrollie begin het.

Volgens Ungerer is goeie samewerkingsverhoudinge tussen verskillende veiligheidstrukture uiters belangrik is in hierdie onsekere tye om misdaad hok te slaan. “Suksesse soos hierdie kan toegeskryf word aan die samewerking en doeltreffende kommunikasie tussen die gemeenskap en privaat sekuriteitsmaatskappye. Hierdie buurtwagte stel ’n goeie voorbeeld van wat bereik kan word as gemeenskappe saamstaan en proaktief optree.”

“AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe om betrokke te raak en self hul veiligheid te prioritiseer. Raak by enige veiligheidsinstelling in jou omgewing betrokke, of sluit vandag nog by AfriForum aan en word deel van die oplossing,” sluit Ungerer af.

Klik hier om by AfriForum se buurtwagte betrokke te raak.

Soortgelyke plasings