|

Sasolburg-tak wy Hoëveldse Tuine met ’n tuinfees in

Die AfriForum-tak in Sasolburg het op 1 Oktober die Hoëveldse Tuine met ’n heerlike tuinfees ingewy. Dié tak het die opknapping en versorging van hierdie tuine, om hulle van totale verval te red, ’n geruime tyd terug oorgeneem. Baie werk is reeds aan die tuine gedoen en dit lyk aansienlik beter as ’n jaar gelede.

Die Sasolburg-tak het besluit om hierdie vordering met die gemeenskap, vir wie die tuine eintlik bedoel is, te deel. Daar was 18 uitstallers wat hulle stalletjies onder die bome opgeslaan het en goeie besigheid gedoen het. Verder was daar ook allerlei vermaak vir oud en jonk. Verskeie inwoners het ook met hulle honde kom stap omdat die park weer mooi skoon en veilig is.

Hoewel die fees aanvanklik slegs as bekendstelling van die Hoëveldse Tuine sou dien, gaan dit waarskynlik ’n instelling word. Daar is nog baie werk wat gedoen moet word om die park na sy eertydse glorie te herstel, maar gelukkig is die aanvoorwerk nou gedoen.

Die tak het reeds in September al begin gewoeker en 16,8 ha gras gesny en 1,3 ha skoongemaak. Daar is ook 22 straatgloeilampe vervang en 15 foutiewe straatligte gerapporteer.

“Dit was ’n trotse dag om hierdie geleentheid te kon bywoon. Hierdie AfriForum-tak in Sasolburg, kan eindelik die vrugte van hulle harde arbeid pluk deur hierdie lieflike gemeenskapspark weer vir die inwoners oop te stel om te geniet. Ek is oortuig daarvan dat hierdie die begin van groot dinge is. Dit is weereens ’n bewys dat ’n mens nie moet staan en toekyk hoe jou eie omgewing ten gronde gaan nie, maar eerder self iets daaraan moet doen,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir Mooirivier.

“Die tak is alreeds besig om die volgende geleentheid te beplan. Hulle wil graag ’n Kerssangdiens in November in die tuine hou. Die bestuur ondersoek ook die moontlikheid om buitelugfilmvertonings in die tuine te hou. Die gemeenskap word gevra om die tak te ondersteun met fondsinsamelings sodat die Hoëveldse Tuine weer tot hulle volle glorie herstel kan word. Die tak is baie dankbaar vir al die donasies wat reeds ontvang is,” sê Johan Cooks, voorsitter van die Sasolburg-tak.

As jy graag by die Hoëveldse Tuine-projek betrokke wil raak, kontak Johan by 083 230 9073. 

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Sasolburg” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings