|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Centurion Christelike Laerskool

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 14 September by die graad vyf leerders van die Centurion Christelike Laerskool besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik. Die doel van hierdie praatjie is om leerders te bemagtig,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap. 

“Centurion Christelike Laerskool wil AfriForum opreg bedank vir die sinvolle aanbieding. Boeliegedrag is ’n euwel waarmee elke kind onvermydelik een of ander tyd te doen gaan kry en dis noodsaaklik dat hulle weet hoe om dit te hanteer. Afriforum se veldtog het ons leerders toegerus om die stryd te stry met die volle wapenrusting van God aan. Dit is vir ons by Centurion Christelike Laerskool baie belangrik dat ons leerders hierdie waardes in hulle alledaagse lewe kan toepas,” sê Riandi Robertse, onderwyseres by Centurion Christelike Laerskool.

Stuur ’n e-pos na leandie.brasler@afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings