|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek CVO Skool Pretoria

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 30 Augustus 2021 by die CVO Skool Pretoria besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik. Die doel van hierdie praatjie is om leerders te bemagtig,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Dit is vir ons skool belangrik dat leerlinge toegerus is om boeliegedrag te identifiseer en leer hoe om op die regte manier, binne ons Christelike etos, daarop te reageer. Hulle moet leer dat dit nie hul menswees bepaal nie, en dat hulle die reg het om daarteen op te tree en dit aan te meld. Die leerlinge het dit baie geniet en baie waarde uit die veldtog gekry,” sê Rachelle Boonzaaier, adjunkhoof van die CVO Skool Pretoria.

Besoek gerus www.teenboelie.co.za vir meer inligting rondom AfriForum se teenboelieveldtog.

Soortgelyke plasings