|

Krugersdorp-tak se slaggatprojek groot sukses

AfriForum se Krugersdorp-tak het op 3 Junie verskeie van hul volhoubaarheidsprojekte van stapel gestuur. Dié tak het weggespring met die slaggatprojek wat ’n groot sukses was. Met die gemeenskap se hulp het die tak 66 slaggate in die Krugersdorp-gebied opgevul en sowat  3 ton teer is gebruik. Hierdie inisiatief was uiters geslaagd en kan toegeskryf word aan die gemeenskap se betrokkenheid en ondersteuning.

Die tak het met hierdie projek slaggate in verskeie gemeenskappe in die Krugersdorp-area getakel. Die areas sluit in Kenmare, Chancliff, Rant en Dal, Dan Pienaarville, Krugersdorp-Noord, Krugersdorp-Wes, Waterval, Tarlton, Sterkfontein en Kromdraai. Die impak van hierdie inisiatief op padveiligheid en die algemene infrastruktuur van paaie is duidelik opmerkbaar in die streek.

“AfriForum se Krugersdorp-tak wil graag bekend maak dat dié tak voortaan maandeliks verskeie projekte sal aanpak om ons gemeenskap te verbeter. Hierdie projekte sal verskillende gebiede en aksies dek wat ons gemeenskap sal ondersteun en versterk. Ons nooi almal uit om by ons projekte betrokke te raak,” sê Stephanus Blignault, distrikskoördineerder vir die Wes-Rand.

“Ons bedank raadslid Aloysha Jooste, van die DA in Krugersdorp, vir haar deelname en samewerking gedurende hierdie projek. Haar betrokkenheid was van onskatbare waarde en het bygedra tot die sukses daarvan. Ons bedank ook Awie Naude, ’n lid van die publiek, vir sy toegewyde deelname en ondersteuning gedurende die hele dag. Sy bydrae het die projek aangenaam en suksesvol gemaak,” sê Blignault.

Die Krugersdorp-tak gaan maandeliks verskeie projekte van stapel stuur om die gemeenskap te verbeter. Hierdie projekte sal verskillende gebiede takel en uiteenlopende aksies aanpak.

“Ons bedank die ondersteuning en samewerking van die publiek. Dit is hierdie tipe inisiatiewe wat ’n positiewe verskil in ons gemeenskap en streek maak. Ons glo dat die samewerking en betrokkenheid van die publiek ’n positiewe impak op ons gemeenskap en die toekoms van Krugersdorp het,” sê Pieter Joubert, tesourier van AfriForum se Krugersdorp-tak.

AfriForum het ook ’n Krugersdorp-buurtwag wat aktief saam met ander rolspelers en die gemeenskap die omgewing beveilig. Indien jy belangstel om deel te word van die Krugersdorp-tak of -buurtwag kontak Stephanus Blignault by 081 300 6815, of klik hier.

Soortgelyke plasings