|

AfriForum se teenboelieveldtogspan en AfriForumTV besoek Laerskool Wierdapark

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan en AfriForumTV het op 12 Oktober 2023 by die Laerskool Wierdapark in Centurion besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, m.a.w. om boeliebestand te wees. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Vir Laerskool Wierdapark is dit belangrik dat ons kinders bewus is van wat boeliegedrag is, maar ook dat hulle weet hoe om op te tree. Dit geld vir die kind wat moontlik boelie en vir die een wat moontlik geboelie word. Ons wil graag albei die kinders ondersteun. Baie dankie aan AfriForum wat ons bystaan in hierdie reusetaak met die teenboelieveldtog,” meen Louis Dekker, hoof by Laerskool Wierdapark.

Die gratis digitale platform met hope vermaak vir Afrikaanse kinders, AfriKinders, het ook die dag by Laerskool Wierdapark bygewoon. AfriKinders se programme is opvoedkundig van aard, ondersteun Christelike waardes en bied verskeie opwindende programme vol avontuur.

Sonder jou is hierdie inisiatief nie moontlik nie. Sluit aan by AfriForum en wees deel daarvan om ’n toekoms te bou waar jou kinders veilige Afrikaanse inhoud kan geniet.

Besoek www.teenboelie.co.za vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog, en maak ’n draai by www.afrikinders.co.za of laai die AfriKinders-toepassing af vir ure se vermaak in Afrikaans.

Soortgelyke plasings