|

Dié Govan Mbeki-dorpe se paaie, vullisterreine, water- en rioolnetwerke kort aandag

AfriForum se Teks (Trichardt, Evander, Kinross en Secunda)- en Bethal-takke het as deel van dié organisasie se nasionale GOP-projek skriftelike kommentaar op die Govan Mbeki Munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) ingedien.

Hierdie kommentaar het daarop uitgewys dat die ouditeur-generaal se verslag vermeld het dat daar meer as R900-miljoen aan die einde van die 2022/23 finansiële boekjaar beskikbaar was in Govan Mbeki se rekening. AfriForum het bevraagteken waarom dié fondse nie gebruik word om uitstaande skuld aan entiteite soos Eskom of Rand Water af te betaal nie. 

“As ’n mens kyk na hoe die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit daagliks funksioneer, kan jy sien dat hulle nie daardie fondse in hul rekening het nie en dat die boeke glad nie klop nie,” sê Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Teks-tak. 

Verder is daar ook verskeie probleme in die betrokke dorpe onder die bestuur van die Govan Mbeki-munisipaliteit se aandag gebring. Daar is onder meer gevra dat die swak gehalte van paaie dringend aandag geniet en herstel moet word.

Die takke het ook die toestand van die dorpe se rioolnetwerke in die kommentare geopper. Pompstasies wat nie werk nie en die algehele swak toestand van die rioolsuiweringsaanlegte lei tot duisende liters riool wat spruite in die Govan Mbeki-munisipale gebied besoedel. 

Daar is ook gekyk na die tekort aan varswater reservoirs. Die Govan Mbeki-munisipaliteit het nie voldoende reservoirs in die waternetwerk oor nie en dit lei tot watertekorte die oomblik wat daar een of ander onderbreking in waterverskaffing plaasvind. 

Verder is die probleem met vullisterreine wat nie aan die nasionale standaarde voldoen nie, ook uitgelig. Die vullisterreine is só swak bestuur dat die meeste daarvan amper nie meer rehabiliteerbaar is nie en besoedeling strek kilometers buite die terreine. 

“Die munisipaltiet maak misbruik van die GOP-projek en kommunikeer slegs wat hulle wil aan mense op deelname vergaderings. Mense moet egter hier hul stemme dik maak en sê wat hulle wil hê moet gebeur, daarom het ons skriftelike kommentare ingedien,” sê Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Hoëveld.

Inwoners word versoek om AfriForum se Teks- en Bethal-takke te ondersteun: Besoek www.wordlid.co.za

Soortgelyke plasings