AfriForum se teenboelieveldtogspan en Helpende Hand besoek Newcastle-skole


AfriForum het in samewerking met die Helpende Hand-tak in Newcastle ’n teenboeliegesprek met verskeie skole in dié dorp gereël sodat leerders, onderwysers en ouers meer bewus word van afknouery in skole. Die soort gesprekke is veral noodsaaklik ná ’n 13-jarige meisie van Pretoria-Noord onlangs haar eie lewe geneem het omdat sy glo op WhatsApp geboelie is.
Vroeg in Maart is daar onder meer by Laer- en Hoërskool Amajuba, Laerskool Drakensberg, Hoërskool Ferrum, Arbor Park Primary School en Huttenpark Primêre Skool besoek afgelê. AfriForum het ook ’n praatjie by Môrester Kinderhuis aangebied nadat die kinders in Februarie-maand daar ontwrig was.

Newcastle se Helpende Hand-tak het ook ’n dinee aangebied waar Leandie Bräsler, koördineerder vir leierskapsontwikkeling by AfriForum, met ouers van die gemeenskap oor boelies gesels het. Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het die visie en waardes van Helpende Hand met die ouers van die gemeenskap gedeel. Die bekende Suid-Afrikaanse pianis Rocco de Villiers het as gaskunstenaar opgetree.
Dit is vir AfriForum belangrik om saam met hierdie rolspelers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word met die kennis toegerus om afknouery te ontmoedig.

“Ons wil toekomstige leiers ontwikkel en hoop skep sodat ons skole vry, veilig en voorspoedig kan wees. Dit is vir ons belangrik dat leerders die verskil tussen konflik en afknouery verstaan, omdat dit dikwels met mekaar verwar word. Ons gesprekke met ouers van die gemeenskap bemagtig hulle om die konsep van boeliegedrag te verstaan en hul kinders te ondersteun,” sê Bräsler.
“Die gebrek aan dissipline in die Suid Afrikaanse samelewing manifesteer in die werksplek, op universiteit en in skole. Ons, in die platteland, ontglip ook nie die uitval van asosiale optrede, intimidasie en boeliegedrag nie. Danksy die teenboelieveltog kon ons ’n boodskap van hoop aan meer as 3 650 leerders by vyf skole en ’n kinderhuis bring, asook aan 250 ouers van die gemeenskap. Ons vertrou dat dié veldtog ’n positiewe uitkoms in ons gemeenskap sal hê en ’n verskil in die stryd teen afknouery sal maak. Leandie en haar span het Helpende Hand in Newcastle se hande versterk om die projek te laat slaag,” sê Peet Liebenberg, voorsitter van Solidariteit se Helpende Hand-tak in Newcastle.

Stuur ’n e-pos aan leandie.brasler@afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings