|

AfriForum se teenboelieveldtogspan en Matteus besoek Laerskool Garsfontein

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 5, 6 en 12 Februarie by Laerskool Garsfontein in Pretoria besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in. Matteus, AfriForum se teenboelieveldtog-maskot, het ook gesig gewys. Sy naam heet Matteus, want in Matteus 7:12 staan daar: “Doen vir ander alles wat julle graag wil hê hulle vir julle sal doen.”

“’n Leerder wat veilig en geborge voel, is ’n leerder wat op alle terreine floreer. Juis om hierdie rede speel boeliebewusmaking ’n kardinale rol by Laerskool Garsfontein. Ons poog daagliks om nie net die beste onderrig aan ons leerders te bied nie, maar werklik om ons leerders holisties te ontwikkel deur ook na hul emosionele sowel as sosiale welstand om te sien. By Garsies weet elke leerder boelie is nie “cool” nie! Juis daarom kweek ons ’n tradisie wat Garsies uitleef: Garsies gee om vir ander, Garsies is dankbaar vir geleenthede, Garsies is braaf, Garsies werk hard en Garsies gee nooit op nie! Ons glo dat ons hierdeur ’n omgewing van respek en samewerking bevorder wat ’n positiewe impak op elke Garsie het. By Garsies vlieg ons elke dag net hoër,” sê Linda Wonigkeit, adjunkhoof by Laerskool Garsfontein.

“Dit is vir AfriForum belangrik dat leerders die teenboelieveldtog-praatjie bywoon wat gebaseer is op die volle wapenrusting van God, omdat hulle dit kan gebruik om boeliegedrag hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Na afloop van die praatjie weet elke leerder hoe om boeliegedrag te identifiseer en hoe om dit stop te sit. Dit is van kardinale belang om leerders op ’n jong ouderdom met die vaardighede toe te rus om dus gevare in die toekoms te voorkom,” sê Tania Scheepers, AfriForum se projekassistent vir onderwys.

Boeliery (ook afknouery) is skadelike of aggressiewe gedrag wat op ’n aanhoudende en deurlopende wyse plaasvind en spesifi­ek gerig word op ’n leerder met minder gesag en selfvertroue as die aanvaller (die boelie). Die navorser, Dan Olweus, identifi­seer drie kenmerke van boeliery, naamlik: 1) aggressiewe aksies met die bedoeling om ander kinders seer te maak; 2) ’n herhaling van hierdie aksies oor ’n tydperk; 3) ’n wanbalans in mag wat slagoffers hulpeloos laat sodat hulle nie hulself doeltreffend teen die aggressiewe gedrag kan verdedig nie.

“AfriForum bemagtig skole landwyd met dié veldtog vir die afgelope sewe jaar deur hoop te skep en om kinders aan te moedig om mekaar met die nodige wedersydse erkenning en respek te hanteer. Hierdie veldtog maak ’n positiewe bydra tot die groter veiligheid van die gemeenskappe deur die boompies te buig terwyl hulle nog jonk is – die jeug is immers ons toekoms,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog en om die teenboelie- en kuberboeliegids gratis af te laai, besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings