|

AFRIFORUM JEUG HELP VOLKSRUST-GEMEENSKAP OM BEGRAAFPLAAS SKOON TE MAAK

AfriForum Jeug het op 10 April 2021 in Volksrust gehelp om die plaaslike begraafplaas weer skoon en netjies te maak. Nadat gemeenskapslede die jeugorganisasie om hulp genader het, is vyf nuwe bossiekappers aangekoop om dié projek aan te pak.

“Die probleem het ontstaan nadat die plaaslike munisipaliteit nie meer instandhouding by die begraafplaas gedoen het nie. Die gemeenskap het genoeg gehad en wou iets daaromtrent doen. Op 10 April het oud en jonk die begraafplaas binnegevaar en begin skoonmaak. Selfs plaaslike ondernemings het kom help op die dag,” sê Petri van der Walt, AfriForum Jeug se nasionale koördineerder vir dorpstrukture.

Sommige van die grafstene in die begraafplaas dateer terug tot so ver as 1851 en daar is ook ’n gedenkmuur op die perseel. Daar sal in Meimaand wéér geleentheid wees om die begraafplaas verder skoon te maak.

Samesprekings word tans gehou om ’n AfriForum Jeug-tak in die gemeenskap te stig sodat die jeug meer betrokke kan raak by sulke projekte wat op die dorp aangepak word.

“Dit is vir my baie lekker om te sien dat ’n gemeenskap só lekker kan saamstaan en self verantwoordelikheid neem om hul omgewing skoon en netjies te hou,” sê Van der Walt.

Raak vandag nog by AfriForum Jeug betrokke en help om ’n verskil te maak: Stuur ’n e-pos na petri.vanderwalt@afriforum.co.za of SMS “Jeug” na 32687 (R1).

Soortgelyke plasings