|

Toegegroeide begraafplaas deur Krugersdorp-tak getem

AfriForum se Krugersdorp-tak het die afgelope naweek saam met ander rolspelers die Sterkfontein-begraafplaas, wat oënskynlik deur die natuur oorgeneem word, reggeruk.

Meer as 100 vrywilligers het Saterdag (10 Februarie) met grassnyers en harke by die begraafplaas opgedaag om veldgras en bossies te verwyder. Die tak het saam met die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), Friends of Emergency Services, die Mosaic Funeral Group, QualiPaint en die VF Plus die begraafplaas skoongemaak.

Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand, sê die Sterkfontein-begraafplaas is ’n seeroog en ’n veiligheidsrisiko vir enigiemand wat hul geliefdes se grafte besoek. Boosdoeners gebruik nie net die toegegroeide begraafplaas om op niksvermoedende besoekers toe te slaan nie, maar die droë en lang gras is ook ’n brandgevaar.

“Die verswakte toestand van hierdie begraafplaas is net nog ’n bewys van hoe dit al vir jare lank onder munisipale verval deurloop. Danksy AfriForum se Kurgersdorp-tak, plaaslike ondernemings en gemeenskapslede is daar nou ’n beduidende verskil in die toestand van die begraafplaas gemaak.”

Die Krugersdorp-tak het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om hul by AfriForum te skaar om ’n daadwerklike verskil in die omgewing te verwesenlik. Besoek www.wordlid.co.za om by jou naaste tak aan te sluit.

Soortgelyke plasings