|

AfriForum se Vryburg-tak verwelkom besluit oor vullisterrein

Die AfriForum-tak in Vryburg verwelkom die Naledi Plaaslike Munisipaliteit se openbare aankondiging dat hulle die dorp se vullisterrein gaan skoonmaak. Dít volg ná AfriForum volgehoue druk op die munisipaliteit toegepas het en op 2 Maart 2020 ’n skrywe aan die munisipaliteit gestuur het.

Talle inwoners en ondernemings in Vryburg het by die plaaslike AfriForum-tak oor die vullisterrein se toestand gekla. Toegang tot die terrein word belemmer deur vullis wat die ingang blokkeer en rook hang gedurig in die lug.

Volgens die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur van Afval (Wet 59 van 2008) is die Naledi Munisipaliteit skuldig aan die volgende oortredings:

  1. Algemene plig ten opsigte van afvalbestuur – (1) ’n Houer van afval moet alle redelike maatreëls tref om –

(a) afvalgenerering te vermy of te verminder en die toksisiteit van die afval wat as sulks gegenereer word, te minimaliseer;
(b) afval te hergebruik, te hersirkuleer en te herwin;
(c) op ’n omgewingsverantwoordelike wyse met afval weg te doen;
(d) afval so te bestuur dat dit nie gesondheid of die omgewing in gevaar stel nie, en geen geraas, reukoorlas of visuele steurnis veroorsaak nie;
(e) te voorkom dat afval gebruik word vir ’n ongemagtigde doel, insluitende optredes om te voorkom dat persone onder beheer van die houer van vullis, hierdie verordening oortree.

“Ons het sonder sukses probeer om vergaderings met die munisipaliteit te reël. Dus het ons besluit om ’n skrywe aan die munisipaliteit te rig en hulle gemaan om aandag aan die vullisterrein te gee, aangesien dit nie net ontoeganklik is nie, maar ook ’n groot gesondheidsrisiko inhou,” sê Gerhard Nieuwoudt, AfriForum se distrikskoördineerder van Stellaland.

Die munisipaliteit het op 17 April 2020 aangekondig dat hulle, met die hulp van die Departement van Openbare Werke, die vullisterrein gaan netjies maak. Die munisipaliteit het ook gesê dat hulle alle onwettige stortingsterreine, soos die grondpad by die spoorwegstasie, ook gaan opruim. Die eerste opruimingswerk het op 20 April 2020 begin. Opruiming is in die week van 28 April 2020 voortgesit.

“Ons moniteer tans die opruimingswerk en is dankbaar dat die munisipaliteit hul belofte aan die gemeenskap tot dusver nakom. Hierdie is weereens ’n bewys dat volgehoue druk op munisipaliteite wel vrugte kan afwerp. Munisipaliteite het ’n verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap en ons moet nie huiwer om ons stemme dik te maak indien hulle versuim om dienste te lewer nie,” sluit Nieuwoudt af.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS jou naam na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings