| |

’n Besige langnaweek agter die rug vir AfriForum se Wes-Moot-strukture

AfriForum se Wes-Moot-tak op 1 Mei in samewerking met Proshield Sekuriteit ’n gesteelde voertuig voorgekeer. Dit volg nadat hierdie spesifieke voertuig ’n paar keer op die tak se LPR-kameras vasgevang is, asook danksy inligting wat van die publiek ontvang is. Alle inligting is verwerk en met Proshield gedeel wat die voertuig eindelik in die parkeerterrein van ’n voertuigwassery opgespoor het. Niemand is in hegtenis geneem nie en die voertuig is vir verdere ondersoek na die SAPD in Hercules geneem.

’n Lid van AfriForum se Wes-Moot-buurtwag het op 29 April verdagtes op heterdaad betrap wat by die selfoontoring op die hoek van Bremer- en Maliestraat ingebreek het. Dit volg nadat ’n gemeenskapslid inligting van hierdie inbraak in die vroeë oggendure aan die buurtwag gekommunikeer het. Die verdagtes het in ’n wegkomvoertuig gevlug. Brinant, Fidelity ADT en lede van die AfriForum-buurtwag en -beheerkamer se hulp is ontbied. By nadere ondersoek is bevind dat die toringkaste oopgebreek is en dat die battery en van die kabels gesteel is.

Later daardie dag het die Wes-Moot-tak gehelp om verskeie grasbrande in die omgewing te blus. In Beaconstraat is brande tussen huise en die snelweg onder beheer gebring en op die Andeon-kleinhoewe is ’n grasbrand geblus voordat dit tussen die boere se weiding versprei het. Die grasbrand in Charl Cilliersstraat is ook geblus nog voordat dit na die boer se lusernlande kon versprei.

Soortgelyke plasings