AfriForum se waarnemers en buurtwagte gerat vir verkiesingstydperk

AfriForum se 134 waarnemers is slaggereed om die nasionale verkiesing op 29 Mei noukeurig dop te hou by verkiesingslokale. Die burgerregteorganisasie se meer as 170 buurtwagte is ook landswyd op hoëgereedheid sou daar enige openbare geweld tydens of ná die verkiesing opvlam.

AfriForum se buurtwagte het in die verlede al groot suksesse behaal soos tydens die Julie 2021 onluste en toe hulle in 2023 ’n voorkomende rol gespeel het saam met ander veiligheidsinisiatiewe toe die EFF die land tot ’n stilstand wou dwing. “Die teenwoordigheid en harde werk van AfriForum se veiligheidstrukture het al groot bydraes gelewer om pogings en dreigemente van onluste te fnuik,” sê Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

Die AfriForum lugvleuel, wat uit meer as 40 hommeltuie bestaan is ook op ’n gereedheidsgrondslag om regstreekse inligting in te win in gebiede wat ontoeganklik kan raak, die hommeltuie word ook gereeld gebruik om verdagtes op te spoor of te monitor. Die AfriForum-buurtwagte sal op hoëgereedheid bly selfs ná die verkiesingsuitslae bekendgemaak is.

“Daar waar ons buurtwagte gevestig is, is hul gereed om te help om hul gemeenskappe op ’n doeltreffende wyse en binne die raamwerk van die wet te beveilig,” sê Broodryk.

Die organisasie raai die publiek ook aan om seker te maak dat hul weet waar hul moet gaan stem aangesien hulle nie toegelaat sal word om elders, waar hulle nie geregistreer is nie, te stem nie. Die inligting kan by https://maps.elections.org.za/vsfinder/ gverifieer word.

AfriForum moedig die publiek aan om enige ongerymdhede of gevalle van intimidasie tydens die stemproses aan te meld by navrae@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings