|

Viljoenskroon-tak maak strate mooi as deel van #OnsDorp-projek

Die AfriForum-tak in Viljoenskroon het in Junie en Julie vlytig weggespring om die strate reg te ruk as deel van AfriForum se #OnsDorp-projek. Strate wat voltooi is, is Havemannstraat, Du Plessisstraat, Goldbergstreet, Culverwellstraat, Senator Senekalstraat, Mareestraat en die helfte van Viljoenstraat.

In hierdie strate is slaggate gevul, padmerkers is geverf, die nodige verkeerstekens is vervang, vullis is opgetel, padgeute is skoongemaak, boomtakke wat oor die straat hang is afgesaag en die straat is netjies gemaak. Alhoewel die #OnsDorp-projek nou ten einde geloop het, gaan hierdie span nie nou ophou nie, maar soos wat daar tyd is nog meer strate opknap.

Die tak bedank die gemeenskap vir borge en donasies. Baie mense het ook ’n verversing vir die besige mense afgegee. Dit word alles baie waardeer.

“Dit is so lekker dat ’n nuwe tak soveel inisiatief aan die dag lê en so ’n groot verskil in hul dorp maak. Ek doen dan ook ’n beroep op die inwoners van veral daardie strate, maar ook van die hele dorp, om self hul strate aan die kant te hou. Selfdoen is beter as niksdoen,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by AfriForum betrokke te raak: SMS “Viljoenskroon” na 45344 (R1). Kontak Lynne Griesel kontak by 082 611 9776 vir skenkings.

Soortgelyke plasings