|

AfriForum se Westonaria-tak skenk elektriese toerusting aan Wes-Rand-munisipaliteit

AfriForum se Westonaria-tak het op 5 Desember elektriese toerusting aan die Wes-Rand-munisipaliteit in Westonaria geskenk. Dié skenking het uit 400 verskillende klein vervormbare metaalbuise van koper (“ferrules”) en ’n boks isolasieband bestaan.

Die “ferrules” word gebruik om kabels en elektriese drade te heg en te verbind en die isolasieband word gebruik om die drade wat geheg is toe te draai. Volgens die bestuurder, Jan van Rensburg, gebruik hulle baie hiervan. In die verlede is epoksiehars gebruik, maar as gevolg van die munisipaliteit se agteruitgang, is dit onbekostigbaar en is die isolasieband nou die enigste oplossing.

Die tak het besluit om hierdie bydrae te maak aangesien die personeel altyd ’n plan moet maak om die gemeenskap, met die bietjie of niks wat hulle het, te dien.

“Hierdie skenking gaan dienslewering bevorder aangesien daar nooit fondse en, of voorraad vir die herstel van elektriese probleme is nie. Alles gaan net meer en meer agteruit en word nooit behoorlik herstel nie. Dit dra tot die herhaling van dieselfde probleem by,” sê Esther Swart, voorsitter van die Westonaria-tak.

Die munisipaliteit beskik nie oor die nodige fondse vir die aankoop van elektriese toerusting nie gevolglik moet die personeel altyd self planne vir herstelwerk maak. Die werknemers wil ook nie meer aankope uit hulle eie sak aangaan nie aangesien hulle  nie daarvoor vergoed word nie.

“Ek wil namens die Westonaria-tak en die gemeenskap die elektriese afdeling in Westonaria vir hulle uitnemende diens bedank. As tak sal ons sover dit in ons vermoê is altyd bystand lewer. Saam kan ons ’n verskil maak. Nogmaals dankie aan die bestuurder, Jan van Rensburg en sy hele span vir julle getroue diens,” sluit Swart af.

Soortgelyke plasings