AfriForum se trauma-vrywilligers prakties opgelei om by plaasaanvalle te help

AfriForum se traumaeenheid het op 19 November opleiding aan 31 vrywilligers gegee om slagoffers op die toneel te ondersteun. Agt vrywilligers van die Apiesrivier-, Pyramid-, Lynnwood Manor- en Centurion-buurtwagte in Gauteng het die opleiding bygewoon. Hulle het by AfriForum se traumaeenheid vir praktiese opleiding bymekaargekom.

Weens die toename in plaasaanvalle en geweldsmisdaad in die landelike gebiede, het die behoefte aan trauma-ondersteuning op dié tonele toegeneem. Izel Kruger, Magda Coetzee en Hennie Human, traumaberaders van die traumaeenheid, het die vrywilligers van die noordstreek, wat Limpopo, Mpumalanga en Gauteng insluit, opgelei.

Die opleiding rus vrywilligers toe om slagoffers van plaasaanvalle op die toneel emosioneel te ondersteun asook te bemagtig en in hul onmiddellike behoeftes te voorsien. Realistiese tonele is vir kursusgangers geskep om hul vaardighede op die toneel op te skerp.

Hierdie opleiding is op 26 November by die traumaeenheid in Kloofsig voortgesit waar nege vrywilligers van Fochville, Benoni, Germiston, Kempton Park, Roodepoort en Krugersdorp in die fynere tegnieke van trauma-ondersteuning touwys gemaak is.

Die traumaeenheid het die opleiding op 3 Desember ook in Kloofsig by die AfriForum-traumaeenheid se raadsaal op ’n hoë noot afgesluit. Veertien vrywilligers van Middelburg, Graskop, Bela-Bela, Mookgopong, Mbombela, Brits en Bethal het vir die opleiding opgedaag.

“Die vrywilligers kan nou ondersteuning aan slagoffers in hulle gemeenskappe bied. Hierdie is ’n waardevolle toevoeging tot die traumaeenheid en ons hoop dit kan nog verder uitgebrei word. AfriForum se traumaeenheid moedig buurtwagte en takke aan om deurgaans vrywilligers te werf om sodoende die eenheid se vermoë om slagoffers tydens plaasaanvalle te ondersteun uit te brei,” sê Magda Coetzee, traumaberader vir AfriForum se traumaeenheid.

Soortgelyke plasings