|

Parys-gemeenskap keelvol, leiers snoer kragte saam om waterkrisis te takel

AfriForum en gemeenskapsleiers van uiteenlopende organisasies, waaronder Save Ngwathe, en gemeenskappe in Parys, Tumahole en Schonkenville gaan nou kragte saamsnoer om die waterkrisis wat in dié gemeenskappe in die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit woed, te takel. Die Kanana Metsi Pompong Waterinisiatief beoog om in die komende weke verskeie aksies van stapel te stuur om ingryping by die sukkelende wateraanlegte wat water aan Parys en die aanliggende nedersettings moet lewer, reg te ruk. 

Volgens Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake by AfriForum, benadruk alle organisasies en individue wat betrokke is by die inisiatief dat die waterprobleme in hierdie gemeenskappe nie sal verbeter sonder direkte aksie nie en dat die gemeenskap nie langer bloot toesighouers kan bly nie.

Gemeenskapsleiers het besluit om die uitdagings in eie hande te neem. “Ons gemeenskap het genoeg gely onder die gebrek aan basiese dienste. Vir jare het die inwoners sonder betroubare en skoon waterbronne geleef. Die tyd vir ons om self die nodige veranderinge aan te bring, is nou,” het die betrokke rolspelers besluit.

Tydens die vergadering is onder meer besluit om as Ka Nwa Metsi Pompong Waterinisiatief eienaarskap van die probleme rakende die waterwerke op Parys te neem.

“Die huidige waterkwaliteit voldoen nie aan minimum standaarde vir drinkwater nie en is onveilig vir menslike gebruik. Derhalwe is die regruk van hierdie aanlegte nou ’n dringende prioriteit,” verduidelik Mostert.

AfriForum het verlede week een van die wateraanlegte in Parys besoek en sal as deel van die inisiatief help om ’n uitvoerbare plan te ontwikkel om die water skoon te maak en leweringskapasiteit te verhoog. Die gemeenskapsleiers het besluit om AfriForum se pogings vir die herstel van die aanleg, te ondersteun.

Soortgelyke plasings