| |

AfriForum skenk brandoorpakke aan Hartbeesfontein-buurtwagte

Die burgerregteorganisasie AfriForum en sy Klerksdorp-tak het vandeesweek ses brandoorpakke aan AfriForum se Hartbeesfontein-buurtwag en -plaaswag geskenk. Die skenking spruit uit die goeie werk wat dié lede in samewerking met die plaaslike brandvereniging doen. Verskeie vernietigende brande het onlangs in dié distrik voorgekom en die Hartbeesfontein-buurtwag en -plaaswag het ’n reusebydrae gemaak om die brande onder beheer te bring en te blus.

Daar is in Augustus berig dat brande in dié omgewing nagenoeg 9 500 ha vernietig het. Boere het boonop miljoene rande se skade gely.

AfriForum het besluit om die buurt- en plaaswag se werk met die skenking van dié noodsaaklike toerusting te ondersteun, aangesien daar bepaal is dat veevoer nie in hierdie stadium die grootste of dringendste noodsaaklikheid is nie.

Volgens Theo Gresse, takvoorsitter van AfriForum se Klerksdorp-tak, is die tak dankbaar dat hulle ’n bydrae kon maak tot die goeie werk wat hul bure op Hartbeesfontein doen en om sodoende ’n bydrae tot dié vrywilligers se veiligheid te maak. “Dit is vir ons lekker om so goed met die gemeenskap van Hartbeesfontein saam te werk,” het Gresse afgesluit. 

“Dit is ’n voorreg om ’n klein bydrae tot hierdie brandspan se veiligheid te kon maak,” verduidelik Alta Pretorius, AfriForum-distrikskoördineerder vir die Mooirivier. “Alhoewel ons hoop dat hulle nie binnekort die oorpakke sal benodig nie, voel ons nou meer gerus dat hulle veiliger en beter toegerus is vir dié werk. Hulle sal boonop nou enige brande selfs meer doeltreffend kan bestry. Ons het baie groot waardering vir die goeie werk wat hierdie mense doen.”

Word vandag nog deel van Hartbeesfontein se wenspan. Vir meer inligting oor die Hartbeesfontein-buurtwag, kontak vir Theresa by 066 207 2525; en om meer uit te vind oor die Hartbeesfontein-plaaswag, skakel Marius by 082 684 1566.

Soortgelyke plasings