|

Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie vir studente eindig met US en NWU-naelbytstryd

Saterdag (30 September 2023) het die finale rondte van AfriForum se Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie vir universiteitstudente by Akademia se Leriba-koshuis plaasgevind. Finaliste van Akademia, Noordwes-Universiteit (NWU), asook die Universiteit van Pretoria (UP) en Studenteplein van die Universiteit van Stellenbosch (US) het teen mekaar in drie uitdundebatte meegeding, voordat die span van Studenteplein die span van NWU in ’n naelbytstryd uitgeklop het.

In die verlede het AfriForum slegs ’n nasionale kompetisie vir enkele universiteitspanne aangebied, maar volgens Nicolene Müller, projekkoördineerder van die kompetisie, het die Dink of Sink-projekspan vanjaar besluit om uitdunne by verskeie instellings in die land aan te bied, ten einde Afrikaanse debat op universiteitsvlak te bevorder en aan meer belangstellendes die geleentheid te bied om deel te neem. “Die plan het beslis vrugte afgewerp. Ons het uitnemende spanne by die onderskeie instellings se uitdunne sien meeding en by die finaal was dit beslis die room van die room wat in die woordestryde hulle staal gewys het,” het sy gesê.

Sy voeg by dat debat ’n vaardigheid is wat studente bemagtig op verskeie terreine. “Die studente het regtig bewys dat hulle hierdie vaardigheid bemeester deur sterk debatvoering, asook deeglike voorbereiding en navorsing.”

In die finaal, wat ook deurlopend op AfriForumTV gestroom is en ook daar beskikbaar sal wees, is Studenteplein verteenwoordig deur Henri van der Westhuizen, Ernst Pieterse, Chris Briel en Adriaan van Wyk, NWU se span het bestaan uit Reuben Coetzer, Jaco Mulder, Estiaan Vorster en Pieter Booysen. Die einddebat het gehandel oor ’n scenario oor die meriete van die inlywing van Walvisbaai by Suid-Afrika wat sogenaamd deur die Namibiese regering voorgestel is. Aspekte waaroor hulle swaarde gekruis het, is die ekonomiese impak daarvan op beide lande, asook die bevordering van toerisme en bepalings van die internasionale reg.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum wat die finaal bygewoon het, gee dit ’n mens moed om hierdie jongmense te sien debatteer. “Hulle vergestalt wat ons juis met die kompetisie probeer bereik, naamlik dat die jeug leer om hulle standpunte op duidelike, weldeurdagte wyse te kan stel en dit met selfvertroue te motiveer, terwyl hulle ook op hoogte van aktuele sake bly. Ons sien reeds uit na die kompetisie van 2024,” aldus Kriel.

Soortgelyke plasings