|

AfriForum vestig eerste streeksveiligheidsnetwerk in die Suid-Kaap

AfriForum se afdeling vir gemeenskapsveiligheid het die afgelope week sy eerste veiligheidsteunkring, oftewel ’n streeksveiligheidsnetwerk, op die been gebring. Dit is die eerste van verskeie steunkringe wat vanjaar landwyd gevestig sal word. Dié steunkring is gesetel in die Suid-Kaap en sal ’n geïntegreerde benadering tot veiligheid en samewerking oor ’n gebied van nagenoeg 12 000 km2 tussen AfriForum se buurt- en plaaswagte in George, Oudtshoorn, Mosselbaai en Knysna bewerkstellig.

’n Nouer samewerking tussen die takke in dié veiligheidskring sal help toesien dat veiligheidskwessies oor ’n breër gebied getakel kan word.

AfriForum gaan deur die loop van die jaar nog talle soortgelyke steunkringe landwyd vestig, om sodoende hul buurtwagte meer effektief op streeks- en nasionale vlak te laat funksioneer. AfriForum het tans 172 buurt- en plaaswagstrukture landwyd.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, hou die vestiging van AfriForum se steunkringe noemenswaardige voordele in vir die gemeenskappe wat daardeur bedien word. “Deur middel van ’n doeltreffende steunkring kan kriminele aktiwiteite byvoorbeeld in ’n groter gebied bekamp word. So ook kan inligting, soos dié wat met behulp van veiligheidskameras langs paaie ingesamel word, wyer gedeel word en die beweging van verdagtes tussen gebiede kan veel beter gemonitor word. Daarbenewens kan misdaadtendense ook meer akkuraat geïdentifiseer en ontleed word om sodoende kwesbaarheid te bepaal en beter risiko-ontledings te kan doen,” sê Broodryk.

Die uitbreiding van plaaslike radionetwerke sal daarbenewens ook as deel van die vestiging van steunkringe gedoen word om lede wat deel vorm van steunkringe, in staat te stel om oor langer afstande te kan kommunikeer. AfriForum sal herleiers in sekere gebiede oprig om kommunikasie tussen steunkringe en die AfriForum-beheerkamers en -takke landwyd te verbeter.

“Ons kan nie langer terugsit en bloot toekyk hoe ons gemeenskappe gebuk gaan onder die vlaag van misdaad in hierdie land nie. Dit is nou tyd vir meer gemeenskapslede om betrokke te raak by buurtwagstrukture,” sluit Broodryk af.

Sluit aan by jou naaste AfriForum buurtwag by www.afriforumbuurtwag.co.za.

Soortgelyke plasings