|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum veg sedert die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wet) die lig gesien het, daarteen aangesien hierdie wet meer mag oor skole in die regering se hande sal plaas. Die burgerregteorganisasie het vandeesweek gesê dit is betreurenswaardig dat druk eers toegepas moes word voordat die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys alle openbare insette gaan bestudeer.

AfriForum is ook bewus van die talle probleme met die plasingsproses vir gr. 1- en gr. 8-leerders in Gauteng en sal die skole wat onder druk verkeer om meer leerders te akkommodeer, ondersteun.

Die organisasie is verder bekommerd oor die uiters gebrekkige omgewingsimpakstudie wat ’n aansoek vir omgewingsmagtiging vir die myn van steenkool by ’n bestaande kleimyn, wat aan die Rietvlei-natuurreservaat in Pretoria grens, ondersteun.

’n Verslag oor die verskeie rassediskriminerende wetgewing is bekendgestel wat regstellendeaksiebeleide ontleed en kritiseer, asook besonderhede gee oor die verband tussen hierdie rassediskriminerende wetgewing en korrupsie.

AfriForum verskyn op 4 September in die Hoogste Hof van Appèl om te appelleer teen die Gelykheidshof se besluit dat die dreunsang “Kill the Boer” nie haatspraak is nie. In onlangse plaasaanvalle het verdagtes hierdie lied gesing terwyl hulle slagoffers aangeval het.

AfriForum se teenboelieveldtogspan en privaatvervolgingseenheid het saam met Akademia by die Wes-Kaapse Departement van Onderwys se ECKED Anti-bullying Indaba as gassprekers opgetree.

Die sentraalstreeksuitdun van AfriForum se Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie het vir ’n naelbyteindstryd in die junior- en senior afdelings gesorg. C&N Sekondêre Meisieskool Oranje se spanne was die wenners en naaswenners in die kategorie vir junior hoërskoolleerders. In die senior kategorie het Oranje ook skoonskip gemaak en die span van Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein was die naaswenners.

AfriForum se takke het ook hard teen munisipale verval gewerk en die AfriForum-tak in Parys het strafregtelike klagtes teen Tebogo Manele, waarnemende munisipale bestuurder van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit, ingedien oor riool wat in die Vaalrivier gestort word. 

Die Klerksdorp-tak het die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit 14 dae gegee om die ernstige rioolbesoedeling in Van Duynstraat in die Songloed-gebied dringend op te los. Ondanks inwoners se bekommernis oor dié besoedeling, het die munisipaliteit die afgelope twee jaar niks daaraan gedoen nie.

In Machadodorp het die tak 15 000 liter water aan die Waterval Boven-gemeenskap beskikbaar gestel nadat inwoners vir sowat ’n week sonder water was weens probleme met die waterinfrastruktuur.

Die Delportshoop-tak het onderdele vir die Laer- en Hoërskool Delportshoop se boorgatpomp geskenk en met die installasie daarvan gehelp sodat daar binnekort weer lopende water op die terrein sal wees.

Die AfriForum-tak en gemeenskapslede in Delareyville het 50 streepsakke vol vullis opgetel tydens ’n opruimingsprojek in dié dorp.

AfriForum se Kirkwood-buurtwag het ’n vermeende inbreker vasgetrek nadat een van die patrolleerders ’n noodroep ontvang het oor ’n verdagte wat toegang tot ’n bejaarde se huis verkry het. Die polisie is van die voorval in kennis gestel en het die verdagte vir ondervraging geneem.

Die AfriForum-buurtwag in Vryheid het gemeenskapslede in vuurwapenhantering opgelei en die Overstrand-buurtwag het in samewerking met PROactive Fitness ’n selfverdedigingsklas vir nagenoeg 30 vroue aangebied.

Soortgelyke plasings