|

AfriForum Sport-kongres fokus op belangrikheid van skolesport

AfriForum Sport het vandag hul tweede Sportkongres by Akademia se Leriba-koshuis aangebied. Verteenwoordigers van verskeie hoër- en laerskole in Gauteng het die tweedagkongres bygewoon. Die sprekers het onderwerpe soos die belangrikheid van sport in skole, afrigters as mentors en ’n multidissiplinêre aanslag tot sportprestasie bespreek.

In sy verwelkoming het Ronald Peters, bestuurder van AfriForum Sport, verwys na die uitdagings wat skole ten opsigte van sport en die aanbieding daarvan ondervind, maar dat sport tog ’n belangrike rol in die ontwikkeling van kinders speel.

Sport leer kinders om in spanne te werk en om nie net aan jouself te dink nie.

“AfriForum Sport is bevoorreg om met skole en kinders te werk en ons wil graag waarde toevoeg eerder as om bestaande projekte oor te neem. AfriForum Sport het die afgelope jaar bykans R1 miljoen aan projekte by skole bestee. Dit is moontlik gemaak deur ruim skenkings van donateurs.”

Peters het verder gesê omtrent 85% van alle sportfederasies in Suid-Afrika is wanfunksioneel. Die hoofredes hiervoor is korrupsie en wanbesteding. Die swak prestasie van sportfederasies plaas volgens Peters meer klem op die belangrikheid van skolesport en die persone wat daarby betrokke is sodat kinders steeds in sport kan presteer.

Louis Dekker, skoolhoof van die Laerskool Wierdapark, het grootliks by Peters aangesluit tydens sy spreekbeurt oor die belangrikheid van sport in skole. “Sport leer kinders onder meer van leierskap, spanwerk, hoe om kritiek te verwerk, werksetiek en hoe om hul tyd te bestuur. Afrigters speel ’n belangrike rol in hierdie proses, maar dit is belangrik dat ’n mens vir die regte redes ’n afrigter word. Dit gaan beslis nie oor jou nie, maar oor die spelers wat jy afrig.”

Dekker sê baie ouers sit geweldige druk op hul kinders, want hulle leef hul eie drome deur hul kinders uit of hulle verwag dat hul kind ’n professionele sportster gaan word. “Daar is ’n grappie in die VSA dat ’n mens ’n beter kans het om ’n professionele sportspan te besit as wat jy het om in een te speel. Dit is dalk nie heeltemal akkuraat nie, maar die punt is dit is uiters moeilik om ’n professionele sportster te word. Minder as 1% van mense sal eendag professioneel aan sport deelneem en dit is belangrik om ouers en kinders se verwagtinge te bestuur.”

Louis Dekker, skoolhoof van die Laerskool Wierdapark

’n Ander belangrike rol wat ’n afrigter vertolk is om as ’n mentor vir spelers op te tree. “’n Mens moenie die verskil wat jy as afrigter kan maak onderskat nie. Die afrigter se primêre rol is om prestasie te verbeter. Om prestasie te verbeter is dit belangrik dat almal tot op die laagste vlak belyn is en dat die strategie deur almal, veral die spelers, verstaan word,” sê dr. Chris Lombard, direkteur van People Capacity Solutions.

Lombard het verder gesê die rol van die afrigter is ook om ’n geleentheidskepper te wees. Dit is ook heeltemal aanvaarbaar vir ’n afrigter om vir hulp by die skool of ouers te vra. Hy noem daar is baie ouers wat bydraes wil maak, maar dit manifesteer dikwels op die verkeerde maniere as die afrigter hulle nie leiding gee nie.

Dr. Chris Lombard, direkteur van People Capacity Solutions

Ander sprekers het beklemtoon dat dit belangrik is om talent te identifiseer én te ontwikkel en proaktief op te tree om langtermyn sukses moontlik te maak. Die kongres word môre voortgesit wanneer die identifisering van die regte leier en effektiewe kondisionering onder meer bespreek sal word.

Soortgelyke plasings