|

AfriForum verskerp aanslag teen NGV ná Nasionale Raad van Provinsies die wetsontwerp goedkeur

AfriForum slyp sy tande om die heftigste stryd nóg teen Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te voer nadat dié verdoemende wetsontwerp die laaste ronde van parlementêre goedkeuring voltooi het. Die burgerregteorganisasie het ’n brief aan president Cyril Ramaphosa gerig wat eis dat hy die wetsontwerp na die Nasionale Vergadering terugverwys. Die brief benadruk die gevare van NGV en waarsku die president dat AfriForum nie sal terugstaan terwyl hy die rug keer op die gesondheid van Suid-Afrikaners nie. Verder het die organisasie opposisiepartye genader oor ’n gesamentlike regsaksie teen NGV, sou die wetsontwerp wel onderteken word.

Afgevaardigdes van agt uit die nege provinsies het Woensdagmiddag (6 Desember) ten gunste van die wetsontwerp gestem in die jongste sitting van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), met slegs die Wes-Kaap se afgevaardigdes wat daarteen gestem het. Dit beteken dat Ramaphosa nou by magte is om die wetsontwerp te onderteken om dit as wet uit te vaardig of om dit terug te verwys na die wetgewer toe weens die ooglopende ongrondwetlikheid daarvan. 

Volgens Louis Boshoff, AfriForum se woordvoerder oor NGV, was die organisasie dié goedkeuring te wagte weens die ANC se volstrekte meerderheid in die Nasionale Raad van Provinsies. Daarom volg AfriForum voorts ’n tweeledige strategie waarin daar openbare druk op die president geplaas word om nié die wetsontwerp te onderteken nie en opposisiepartye en drukgroepe verenig in ’n gesamentlike grondwetlike hofsaak teen NGV. Ramaphosa het ’n grondwetlike verpligting om ’n wetsontwerp wat enige kommer by hom wek terug te stuur om hersien te word, terwyl die Konstitusionele Hof finaal oor die grondwetlikheid van wetsontwerpe kan beslis.

“Die ANC se ideologiese verblinding is met hierdie uitslag opnuut aan die wêreld ten toon gestel. Nadat bykans elke gesondheidskenner in die land die een of ander waarskuwing gegee het of wysigings voorgestel het, gaan die ANC eenvoudig voort om hul sentralistiese planne sonder aanpassing deur te voer,” sê Boshoff. “’n Regering wat hul eie magsposisie belangriker ag as die gesondheid van die landsburgers – kan daar nóg laer gedaal word?”

Jy kan ook self van die president eis om die wetsontwerp af te keur deur www.jougesondheid.co.za te besoek.

Soortgelyke plasings