AfriForum stig buurtwag in Margate


Die burgerregte-organisasie AfriForum het op 13 September 2018 ’n AfriForum-buurtwag in Margate gestig nadat die gemeenskap vir ’n geruime tyd die behoefte uitgespreek het om die hoë vlakke van misdaad in die omgewing deur middel van ’n buurtwag te bekamp.

Die buurtwagbestuur bestaan uit Wessel Pretrorius (buurtwagvoorsitter), Wynand Kirchner (buurtwagondervoorsitter), Marizaan du Plessis (Margate), Adolf Oosthuizen (Ramsgate), Wynand Kirchner (Uvungo), Hennie van den Berg (Manaba) en Jaco van Vuuren (Port Shepstone).

“Ons wil graag goeie bande met die SAPD, die GPF en ander strukture in die omgewing smee om saam ’n verskil te maak en spesifiek die hoë voorkoms van misdaad in Margate en die omliggende dorpe te verminder,” sê Pretorius.
“Die Southcoast Herald het onlangs berig dat Margate, KwaZulu-Natal se hoogste inbraakstatistiek het. Daarom is ek baie opgewonde oor die stigting van ons buurtwag en nooi ek die gemeenskap uit om by ons in te skakel. Ons kan nie langer die geveg teen misdaad op die skouers van ons Polisie alleen laat rus nie – ons moet self betrokke raak,” sê Adolf Oosthuizen, voorsitter van AfriForum se Margate-tak.
“AfriForum dien op die SAPD se provinsiale-, landelike- en toerismeveiligheidskomitee wat maandeliks in Durban plaasvind, waar ons waardevolle insette rondom gemeenskapsveiligheid lewer. Ons hoop om hierdie positiewe verhouding tussen AfriForum en die SAPD na die plaaslike buurtwag oor te dra, sodat Margate se gemeenskap ook daarby kan baatvind,” sê Eugene van Aswegen, provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.

Raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke deur jou naam na 45267 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings