|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het hierdie week weer opgestaan teen munisipale verval, misdaad en korrupsie deur verskeie aksies aan te pak.

Die AfriForum-tak in Bethal het die afgelope tyd verskeie slaggate in dié dorp gevul. Twee plaaslike ondernemings het ook onderskeidelik ’n vragmotor beskikbaar gestel en gruis geskenk. Danksy die tak se samewerking met nabygeleë boere is drie tenkwaens met water by twee noodwaterpunte afgelewer nadat inwoners weer nie water gehad het nie. Die Bethal-tak se groentetuinprojek het 60 kg tamaties opgelewer wat aan die Bethal-sopkombuis en die Silwerjare-tehuis geskenk is.

In Uitenhage het die tak voortgegaan met hul skoonmaakprojek deur onkruiddoder op bossies in die stegie in Alwynrylaan te spuit.

AfriForum se Winterberg-plaaswag en Walker Drive-buurtwag in die Oos-Kaap het in samewerking met ander rolspelers groot veldbrande in Kareedouw bestry toe ongeveer 150 ha gebrand het.

Sowat 30 mense van AfriForum se Bellville-buurtwag en die Community in Blue het opleiding ontvang in toneelhantering, ongelukstoneelhantering, regsaspekte, patrollies, asook bevel en beheer. Die Paarl-Noord-buurtwag het proaktief opgetree om misdaad te bekamp deur gereelde patrollies te ry.

In Stellenbosch is die AfriForum-buurtwag se hommeltuig ingespan om te help om twee tikgebruikers en ’n dwelmhandelaar vas te trek tydens ’n gesamentlike operasie met die Franschhoek- en Groot-Drakenstein-polisie.

Silulumanzi, ’n watersuiwering- en afvalwaterdiensverskaffer, het ná jarelange druk van AfriForum se Nelspruit-tak ’n rioolpyp met sement gevul in ’n poging om die onwettige rioolstorting in die Steiltes-natuurreservaat in Nelspruit te stop. Die tak het in ’n brief geëis dat Silulumanzi die oorsaak van die rioolstorting moet vind en alles in die stryd moet werp om te verhoed dat dit weer in die toekoms plaasvind.

Die burgerregteorganisasie het as vriend van die hof opgetree in die DA se aansoek om kaderontplooiing ongrondwetlik en onwettig te laat verklaar. Die hooggeregshof in Pretoria het hierdie aansoek vandeesweek van die hand gewys – ’n besluit wat die burgerregteorganisasie beskou as die goedkeuring van kaderontplooiing. Volgens AfriForum ontneem kaderontplooiing werksgeleenthede van diegene wat nie ANC-lede is nie en het dit reeds tot grootskaalse korrupsie en staatskaping gelei.

AfriForum Jeug het ’n dringende brief aan die bestuur van die Universiteit van Pretoria (UP) gestuur waarin optrede teen stakende personeel geëis is. UP-werknemers wat lede is van die National Education, Health and Allied Workers Union (Nehawu) en die University of Pretoria Workers’ Organisation (UPWO) staak sedert verlede week en het studente toegang tot kampus geweier. Die universiteit het vinnig op dié jeugorganisasie se brief geantwoord en sekere klasse word vir die interim aanlyn aangebied.

AfriForum, Saai en Thabake Business Enterprise se gesamentlike landbouontwikkelingsprojek het vandeesweek met die voorbereiding vir die derde plantsiklus van hulle groenteprojek begin. Altesaam 4 191 kg murgpampoen, 728 kg rooikool en 740 kg kool is aan Nutripick gelewer tydens hierdie tweede plantsiklus. Verder is 770 blomkoolkoppe ook aan ander kliënte gelewer.

Soortgelyke plasings