| |

AfriForum-tak en gemeenskap in Viljoenskroon maak begraafplaas netjies

Die AfriForum-tak en lede van die gemeenskap in Viljoenskroon het verlede maand ingespring en die uiters verwaarloosde begraafplaas skoongemaak. Die begraafplaas was in so ’n toestand dat dit ’n verleentheid is as daar ’n begrafnis plaasvind en mense kon ook nie meer geliefdes se grafte besoek nie.

Die tak het hulle toerusting gebruik en mense gehuur om te kom help. Lede van die gemeenskap het brandstof geskenk en Otto Kirten het ’n trekker, twee sleepwaens en werkers gebring wat die werk baie makliker gemaak het. Ná die winter sal die tak die begraafplaas met onkruiddoder spuit om te voorkom dat die bossies handuit ruk.

“Die haglike toestand van iets soos ’n begraafplaas, is net weer ’n bewys van die verval wat daar in die munisipaliteite heers. Ek is egter baie dankbaar dat die gemeenskap en die plaaslike tak die trots het om in te spring en hulle geliefdes se laaste rusplek netjies te maak en netjies te hou. Baie dankie aan elkeen wat ’n bydrae gelewer het. Saam is ons sterker,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Indien jy wil betrokke raak by die Viljoenskroon-tak, kontak vir Attie Barnard by 082 557 1428.

Soortgelyke plasings